Sewe vrae aan dr Renate Rebello, menslike genetikus en opleier by die DNA Project:
1. Kan mense hul DNS vrywillig skenk vir die Nasionale Forensiese DNS Databasis?
Nee, dis tans net DNS wat met misdaadsake geassosieer word, wat daarop gestoor word. Hoewel dit die geval is met meeste forensiese databasisse regoor die wêreld, is daar interessant genoeg in die Verenigde Arabiese Emirate sprake van ’n verpligte databasis vir alle inwoners en besoekers. Die wêreld wag met ingehoue asem op die uitslag.
2. Doen die DNA Projet ook werkswinkels vir Jan Alleman?
Nee, ons fokus op diegene wat tradisioneel eerste op ’n misdaadtoneel sal werk: buurtwag, sekuriteitspersoneel, polisie en so meer. Ons het ook verlede jaar begin met werkswinkels vir LegalAid-prokureurs sodat hulle nie alleen DNS-bewyes in die hof kan voorlê nie, maar dit ook kan bevraagteken as dit deur die opposisie gebruik word.
3. Hoeveel mense se DNS is reeds op die Nasionale Forensiese DNS- databasis?
Teen Oktober 2016 was daar 580 000 DNS-profiele gelaai.
4. Kyk jy en jou gesin baie CSI-programme en dit krap jou om oor die tekortkominge?
Ja, ons kyk na ’n paar en ek glimlag waneer my gesinslede kommentaar lewer oor die tekortkommings. Dis verbasend hoe baie inligting hulle al deur gesprekke opgetel het. Maar hierdie programme is eintlik kragtig vir klasgee. Ek kan my studente vra om ’n spesifieke program te kyk, en die volgende dag kan ons krities daarna kyk, en dit evalueer.
5. Hoe gereeld word DNS in Suid-Afrika suksesvol ingespan om misdaad op te los?
Ek het onlangs met ’n senior analis by die forensiese laboratorium hieroor gesels. In haar loopbaan, is sy by al meer as 9 000 DNS-sake betrokke, en in net ongeveer 5% van hulle, was daar verduideliking nodig oor die DNS bewyse in die hof. Dit is gewoonlik baie oortuigend.
As ons kyk na die meer algemene en ernstige misdaadsvorms in Suid Afrika, soos verkragting en moord, maak dit sin dat ons baie misdaads-sake het, waar DNS bewyse baie waardevol kan wees. Met die wet in plek vanaf 2014 en die tegnologie om alles bymekaar te bring, het ons nou ’n veel beter kans om elke misdaad te bekamp. Die gebruik van die NFDD het ons onder meer gehelp om reeks-sake soos die onlangse Sikangele Mki se skakels te sien en tot oplossings te lei.
Hoe beter ons word met beskerming van bewyse op misdaadtonele, hoe makliker sal dit wees om misdade op te los. Maar onthou, daar is voorbeelde van misdade waar DNS nie van waarde was nie, maar wel, ander vorms van bewyse (bv. Oskar Pistorius).
6. Is die DNA Project se doelstellings nie eerstewêreld in ’n derdewêreldbestel nie? Kan ons hierdie inligting verwerk en gebruik – is daar toerusting en kundige mense beskikbaar?
Ons DNS-laboratorium hier in die Wes-Kaap, is onder die beste in die wêreld. Omdat ons ’n Eerstewêreldtegnologie toepas, moet ons Eerstewêreldtoerusting en -kundigheid gebruik. Ek is elke keer so trots wanner ek die laboratorium besoek. As meer mense dit kon sien …
7. Raak jy ooit moedeloos oor die berg wat voor jou lê met betrekking tot misdaadbekamping en die lang pad wat vir die projek voorlê?
Verbasend nee. Ek is gelukkig dat ek soveel ongelooflike, toegewyde polisiemanne en -vroue, regspraktisyns, gemeenskapslede en ywerige studente ontmoet en dit gee my hoop. Mense wil saamwerk aan ’n oplossing en daar was al soveel vordering die afgelope paar jaar, waaronder die instelling van die DNS-wet.