ONVOORWAARDELIKE LIEFDE: Opregte liefde vir ander mense is ‘n belangrike komponent van jou aantreklikheid. Waarom? Want as jy vir mense lief is, sal hulle jou deurmekaar hare of jou taalfoute of enige ander tekortkomings vergewe. Maar as hulle aanvoel dat jy nie van hulle hou nie, sal al jou tekorkomings hulle irriteer.
BALANS: Ek stel voor dat jy dié sewe kategorieë in jou lewe in balans hou: finansieel, fisiek, geestelik, gesin en huwelik, persoonlike groei, professioneel en sosiaal.
SELFVERTROUE: Om ander mense met selfvertroue te lei, moet jy ‘n sekere mate van geloof in jouself hê.
KREATIWITEIT: Ons is verkeerdelik geneig om kunstige vermoëns gelyk te stela aan kreatiwiteit. Baie kunstenaars is nie soseer besig om te skep nie, maar om iets te dupliseer – ‘n skets of skildery byvoorbeeld, al doen hulle dit meesterlik. Dis ‘n wanopvatting om te dink ek moet kunstig wees om kreatief te wees. As jy ‘n probleem ten opsigte van jou personeel, rekenaar of tekenbord kan oplos, is jy kreatief.
DISSIPLINE VERSUS MOTIVERING: Ek het ‘n hele paar mense al met dié stelling geskok: “Jou probleem is nie dissipline nie, dis motivering!” As jy die nodige motivering het, is dissipline nie ‘n probleem nie. As jy nie gemotiveerd is nie, is dissipline altyd ‘n probleem.
PERSONEELLEDE VAN FIRMAS BY WIE GARY CHAPMAN EN PAUL WHITE NAVORSING GEDOEN HET VIR DIE 5 TALE VAN WAARDERING IN DIE WERKPLEK Sê HOE HULLE AAN DIE ONTVANGKANT HIERVAN WIL WEES:
‘n Paar personeellede sê: So wil ek opbouende woorde ontvang:
- Sê af en toe vir my: Dankie vir jou harde werk.
- Stuur vir my ‘n e-pos waarin jy se “Dankie jy het jou werk goed gedoen”.
- Praat met ander mense (wanneer ek nie naby is nie) oor hoe goed ek my werk doen.
- Gee vir my ‘n spesifieke kompliment wanneer ek iets goed gedoen het.
- Wanneer ek elke jaar beoordeel word, maak ‘n lys van alles in my werk waarvan jy hou.
- Prys my wanneer ons alleen en nie voor mense is nie.
- Skryf vir my ‘n briefie wat sê hoe baie jy my waardeer.
- Komplimenteer my hele span wanneer ons goed gevaar het.
‘n Paar personeellede sê: So wil ek gehaltetyd ontvang:
- Eet middagete saam en gesels oor sake wat onderneming raak.
- Eet saam net omdat dit lekker is.
- Gaan stap ‘n entjie saam tydens etenstyd.
- Kuier ‘n rukkie saam met die span aan die einde van die dag.
- Hou ‘n wegbreekgeleentheid vir die personeel.
- Kyk saam na ‘n sportwedstryd.
- Gaan eet ná werk en neem gades of belangrike persone in hul lewens saam.
- Bel mekaar af en toe sommer om te gesels.
‘n Paar personeellede sê: So wil ek diensbaarheid ontvang:
- Bied aan om werk te doen waarvan jy nie hou nie.
- Help ‘n spanlid om sy rekenaar meer doeltreffend te maak.
- Neem vir spanlede kos wat na ure werk om ‘n projek te voltooi.
- Bied aan om ‘n taak wat minder belangrik is te voltooi sodat jou kollega sy volle aandag aan ‘n meer belangriker taak kan wy.
- Gee ekstra tyd in die dag aan steunpersoneel sodat hulle kan help om liasseerwerk en papiere te orden.
‘n Paar personeellede sê: Sò wil ek geskenke ontvang:
- Kaartjies vir sportwedstryde of byeenkomste.
- Geskenkbewys vir ‘n ete by ‘n restaurant.
- Kulturele gebeurtenisse soos ‘n simfoniekonsertkaartjies.
- Mini vakansie of wegbreek, of ‘n naweek in ‘n gastehuis.
- ‘n Spabesoek of gratis gholf.
- ‘n Geskenkbewys by ‘n plaaslike winkelsentrum vir bv sporttoerusting of huisware.
- Werktyd af.
As jy aanraking as waarderingstaal in die werkplek wil toepas:
Die persoonlike siening van wat in die werkplek aanvaarbaar en onaanvaarbaar is verskil merkbaar van mens tot mens. Met voorbehoude eenkant gelaat is ‘n ferm handdruk of “vat vyf” vir goeie werk heeltemal aanvaarbaar. Kruiskulturele navorsing het ook gewys dat ‘n kloppie op die rug universeel aanvaarbaar is. “Daar is sakeskole wat tans navorsing hieroor doen,” sê Gary.
HOE WEET JY WAT IS JOU KOLLEGAS SE TAAL VAN WAARDERING?
1. Let op hul gedrag: As hulle ander mense met opbouende woorde motiveer is dit waarskynlik hul primêre waarderingstaal. As hulle gereeld geskenke gee mag dit dalk hul taal van waardering wees. As hulle nie hulp vra nie, maar doen wat hul hand vind om te doen is diensbaarheid waarskynlik hul primêre taal. Navorsing het bewys dat sowat 25% mense een taal van waardering praat, maar ‘n ander taal verkies om te hoor. 75% mense se taal wat hulle self praat is die waarderingstaal wat hulle verkies om te hoor.
2. Let op wat hulle van ander mense vra. Sal jy asseblief vir my geskenke saambring as jy konferensie toe gaan? Hul waarderingstaal is gehaltetyd as hulle gereeld mense vra om saam met hulle te gaan inkopies doen.
3. Luister na hul klagtes. As hulself smag na opbouende woorde is dit dalk hul primêre waarderingstaal. As niemand tyd saam met hom wil spandeer nie, is dit waarskynlik gehaltetyd. Die dinge waaroor mense kla, kan heel moontlik hul primere taal van waardering weerspieel.
DIE VERSKIL TUSSEN ERKENNING EN WAARDERING
Terwyl erkenning hoofsaaklik op prestasies of die bereiking van sekere doelwitte fokus, val die klem by waardering op die waarde van die individuele werknemer. Natuurlik is ‘n werknemer se prestasievlak belangrik, maar dit gaan nie net daaroor nie. Erkenning fokus op wat iemand doen, waardering fokus op wie iemand is.
BRONNE:
Lees: 5 Tale van waardering in die werkplek, bemagtig en motiveer leiers in die werkplek deur Gary Chapman en Paul White. Afrikaanse uitgawe uitgegee deur Christelike uitgewersmaatskappy, 2012. Vertaal deur Hester Fourie.
Lees: ‘n Leier met selfvertroue. Praktiese beginsels oor leierskap, bestuur en die lewe deur Bobb Biehl. Afrikaanse uitgawe uitgegee deur Christelike uitgewersmaatskappy. 2012. Vertaal deur Esta Grobler.