Dis die een nagmerrie en slegte gebeurtenis op die ander. Gaan jou teenspoed dan nooit ophou nie? Shanda Luyt skryf hieroor in ons 1 Mei-uitgawe. Ons kyk hier verder na watter eienskappe gelukkige mense besit.
Shanda Luyt
Prof Richard Wiseman, ’n sielkundige by die Universiteit van Hertfordshire, het bevind mense wat teenspoed ervaar, is gewoonlik meer gespanne as gelukkige mense, en navorsing toon dat angstigheid mense se vermoë om die onverwagte raak te sien, verhinder. Hulle mis dus waardevolle geleenthede.
“Hulle gaan byvoorbeeld na ’n partytjie toe met die bedoeling om die perfekte lewensmaat te ontmoet en mis só geleenthede om goeie vriende te maak. Of hulle soek so gefokus na sekere soort werksadvertensies en mis ander soorte werke. Gelukkige mense is meer ontspanne en oop, en sien dus makliker wat daar is, eerder as net waarna hulle soek.”
Volgens prof Richard toon sy navorsing dat gelukkige mense vier basiese beginsels volg.
Die vyf eienskappe van gelukkige mense
• Hulle is vaardig in die skep en raaksien van geleenthede
• Hulle neem gelukkige besluite deur hul intuïsie te volg
• Hulle skep selfvervullende waarhede deur positiewe verwagtinge
• Hulle het ’n sterk vasbyt-houding wat teenspoed in voorspoed verander.
• Gelukkige mense is geneig om die positiewe kant van hul ongeluk te sien; dat dinge altyd erger kon gewees het.