Willie Burger kyk na drie boeke vir klein en groot
Een van die vernaamste maniere waarop ons sin maak van ons wêreld, is deur onsself ten opsigte van die wêreld te oriënteer. Waar pas ons in? Wat is daar nog alles? Waar is al die ander dinge in die wêreld?
Hierdie wêreld word vir ons van kleins af geleidelik groter. Aanvanklik is ons wêreld maar so groot soos ons ouerhuis, ons woonbuurt, die onmiddellike omgewing. Geleidelik word dit egter groter en uiteindelik kry ’n mens ’n besef van jou land, die wêreld en selfs ons sonnestelsel en die ganse kosmos. Een van die belangrikste maniere om hierdie oriëntering ten opsigte van jou eie plekkie in die heelal te vind, is deur kaarte.
Ek kan onthou hoedat ek van kleins af deur die aardbol gefassineer is, maar ook deur kaarte. ’n Groot wêreldkaart het as kind teen die muur gehang en as ek van iets oor die nuus hoor, het ek die land waar dit gebeur het, gaan soek. MapStudio, sedert 1958 al die uitgewers van kaarte en atlasse, het nou ’n Suid-Afrika-atlas vir kinders gepubliseer: My First South Africa Atlas. Dié atlas bevat ’n magdom inligting oor elke streek van Suid-Afrika. Elke provinsie, maar ook kleiner dele van elke provinsie word in fyn besonderhede bespreek. In die middel van elke dubbelbladsy is ’n kaart van die spesifieke provinsie en op die daaropvolgende bladsye kaarte van kleiner dele van die provinsies.
Rondom die kaart is daar inligting oor die plantegroei, historiese gedenkwaardighede, interessante feite, plekke van kulturele belang, geologiese inligting, natuurparke en ander plekke wat ’n mens kan besoek. In hierdie opsig is die atlas baie soos ’n reisatlas. Onderaan elke bladsy is daar ook ’n “tydlyn” waarop belangrike historiese gebeurtenisse wat in dié spesifieke streek plaasgevind het, aangeteken is. Hierdie “eerste atlas” is ’n bron propvol inligting oor geskiedenis, geografie en sommer baie ander feite oor Afrika, maar spesifiek oor Suid-Afrika. Weinig kinders sal waarskynlik self die boek deurwerk, want al is die aanbod kleurryk en prettig uitgelê, is dit in ’n kleinerige fontgrootte gedruk.
Hierdie eerste atlas sal waarskynlik eerder deur ’n ouer persoon vir die kind voorgelees en gewys moet word. Dit is egter ’n nuttige reisgids vir wanneer ’n mens met vakansie gaan. En wanneer die kinders begin skoolgaan, sal hulle sommer baie inligting hieruit kan kry.
Die tweede aflewering van die Poortvierluik het aan die einde van verlede jaar verskyn en volg op Die Poort. Bewakers. In Reisigers gaan die vier hoofkarakters, Leonardo, Kali, Nomsa en Tara, deur die onderwaterpoort by hul dorp, Bospoort, en beland op Die Ander se planeet. Jong lesers wat hou van verhale waarin tieners superkragte het en met allerlei vreemde magte te doen kry, sal hou van al die raaisels waarin die karakters telkens verder verstrik raak.
Lerina Erasmus is as skrywer veral bekend vir die Mannheim-sage, wat aanvanklik as ’n radioreeks uitgesaai is en later vir TV verwerk is. Sy het dit uiteindelik ook as ’n drieluik romans verwerk: Die fortuinsoekers, Die goudkewers en Die goudbaronne. Die Mannheim-sage is op historiese navorsing gegrond oor die ontdekking van goud en die ontstaan van die goudbedryf in Johannesburg, maar eintlik gaan die verhaal oor ’n twis tussen families. Sedert sy Suid-Afrikaanse TV-kykers en lesers met die wel en wee van die Mannheims geboei het, het sy ook haar vermoë om spanning te skep, begin inspan vir misdaadfiksie.
Die leliemoordenaar is haar nuutste roman. Dit is ’n spanningsverhaal vol onvoorspelbare wendings, talle raaisels en liefde. Die hoofkarakter is Danny Hector. Sy is ’n topspeurder wat probeer om ’n reeksmoordenaar vas te trek, maar, soos in talle Suid-Afrikaanse speurverhale van die afgelope jare, lei haar ondersoek terug na die geskiedenis van die apartheidsjare en die betrokkenheid van die destydse polisie by die dood van die Cradockvier. Soos dikwels die geval is, kry haar ondersoek egter ook ’n baie persoonlike kant, wanneer sy begin agterkom dat haar pa se dood in 1985 nie was soos wat dit gelyk het nie.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.