Wil jy hierdie vakansie vir jou gesin onvergeetlik maak? Dit maak nie saak waarheen julle gaan nie, maar eerder hoe julle dit aanpak, sê Shanda Luyt. Probeer dié vakansie-aktiwiteite
Shanda Luyt
Vakansie behoort die heel beste tyd van die jaar vir jul gesin te wees – dis immers die enigste tyd wanneer julle van al jul normale verpligtinge en bekommernisse kan wegbreek en onbevange tyd saam kan geniet. Maar hoe maak jy seker julle benut die vakansie ten beste? Die waarheid is: Elke vakansie is wat julle daarvan maak …
1. Kort, maar lekker
Ná ‘n jaar se harde werk het ‘n mens ‘n la-a-ang ruskans nodig om te herstel, of hoe? Dis nie te sê nie. Dis beter om ‘n kort, maar baie lekker vakansie te hê as ‘n lange wat minder lekker is. As jul begroting beperk is, moet julle mooi dink oor wat julle wil doen. Wil julle twee weke by die see wees, sonder ekstra geld om iets anders te doen as om elke dag strand toe te piekel, of wil julle net ‘n week daar bly, maar ‘n paar bederfuitstappies inwerk?
2. Bietjie beplan
Dit help baie om voor die tyd min of meer ‘n idee te hê van wat julle graag die vakansie alles wil doen sodat julle kan onderhandel oor die wat, waar en wanneer. ‘n Deel van die lekker lê immers in die beplanning en afwagting! Kry brosjures van jul vakansiebestemming, gesels oor wat julle graag wil doen en hoe julle dit by julle begroting en tyd kan laat inpas.
3. Baie aanpas
Beplanning is noodsaaklik, maar as julle eers met vakansie is, is aanpasbaarheid die sleutelwoord. Alles gaan nie altyd 100% volgens plan verloop nie, dan is dit belangrik dat julle by die omstandighede aanpas en die beste daarvan maak. As julle ‘n see-uitstappie beplan en dit reën skielik katte en honde, pluk die pannekoekpan uit en bak almal saam pannekoek of speel kaart, Rummikub of Thirty Seconds.
4. Krimp die langpad
Jou vakansie begin reeds as jy by die huis wegtrek. Pak genoeg lekker musiek en storie-CD’s vir die kinders in om die pad korter te maak. Goeie afwisseling is ‘n CD met lekker saamsingliedjies. ‘n Goeie arsenaal raaisels of speletjies soos “Ek sien met my kleine ogies” is ook nodig. Gebruik ook hierdie tyd om mekaar beter te leer ken. Vertel stories uit jou verlede en vra die kinders om van hul stories te deel. Of speel kenmekaarspeletjies soos: “Wat is jul gunstelingkos/-dier/-blom?” of “Wat kies jy: reën of sonskyn/see- of bosveldvakansie?” Maak beurte.
5. Stop vir ‘n oomblik
Die meeste van ons jaag elke jaar na ons eindbestemming, want ons wil so min moontlik tyd op die pad mors, maar in die proses ry julle dalk by die wonderlikste skatte verby! Julle moet tog een of ander tyd bene rek en petrol ingooi. Kies een of twee interessante stoppunte langs die pad in plaas daarvan om by die gewone vulstasies te stop waar daar nie veel te sien is nie. Maak ‘n vinnige draai by ‘n plaaslike museum of besienswaardigheid. Dit hoef nie meer as ‘n uur by jul rytyd te voeg nie en sorg dat die reis reeds soos deel van die vakansie voel.
6. Vat die regte houding saam
Jy kan al jul klere, die tennisrakette en selfs die kos by die huis vergeet, maar moenie die regte houding by die huis vergeet nie. Dit kan jul vakansie-ervaring maak of breek. Jou houding moet wees: Ons gaan dit geniet – maak nie saak wat nie! Hanteer alles as deel van die avontuur. ‘n Pap wiel langs die pad is die ideale geleentheid om bietjie vars Karoolug in te asem en sommer ‘n impromptu-piekniek langs die pad te hou en eendag gaan julle nog lekker daaroor lag.
7. Bekende rituele
Watter lekkertes onthou jy uit jou kinderjarevakansies? Dis dikwels daardie klein gesinstradisies wat julle jaar na jaar herhaal het, soos jul jaarlikse uitstappie na jul spesiale roomysplek op die laaste dag van jul vakansie, die padkos by die tafeltjie langs die pad, die aande se kaartspeel om die kombuistafel. Doen moeite om jul eie vakansietradisies te vestig – iets wat jou kinders weet julle elke vakansie doen, ongeag waar julle is.
8. Rus genoeg
Moenie jul vakansie so vol prop met aktiwiteite dat daar geen tyd vir rus is nie. Julle mag maar soms lui wees en net rondlê en niks doen nie. As julle self jul skoonmaakwerk moet doen, kan julle baie spanning vermy deur vooraf vaste take aan elke gesinslid toe te ken en op ‘n werksroetine te besluit, sodat al die werk nie op een of twee gesinslede (gewoonlik Ma!) se skouers val nie.
9. Lekker vakansiekos
Tradisionele padkos soos frikkadelle, hoenderboudjies, wors, toebroodjies en ‘n lekker fles koffie is altyd ‘n treffer, maar by die vakansiebestemming is die kuns om kos lekker, maar maklik te hou – verkieslik iets wat die hele gesin saam kan maak. Vleisbraai bly bobaas en kosse soos braaibroodjies, gebraaide mielies, gebakte patats en slaaie is maklik en lekker. Peuselkos en trooskos soos biltong en vrugte wat magies vol hou is ‘n moet. En natuurlik moet julle malvalekkers braai …
10. Iets vir almal
Dit help nie daar is net goed om te doen vir een of twee gesinslede terwyl die res dikmond moet toekyk nie. Maak seker daar is iets vir almal se smaak en doen om die beurt elkeen se gunstelingaktiwiteit. Dit sorg vir lekker gesinstyd en gee blootstelling aan nuwe ervarings. Waterwurmry is dalk jou kinders se ding, maar Pa en Ma kan dit ook geniet. Net so kan die kinders dit geniet om saam met Pa vis te vang.
11. Een nuwe ervaring
Navorsing toon mense put meer langdurige bevrediging daaruit om geld op ervarings as op materiële goedere te spandeer. In plaas daarvan om die Kerskouse te oorlaai, maak seker dat julle minstens een baie spesiale ervaring by jul vakansie inbou. Dit moet vir jou gesin ‘n nuwe, opwindende ervaring wees – ‘n lekker verrassing en iets waaroor hulle sommer nog lank sal praat. Dit kan enigiets wees, van duik saam met die haaie en ‘n besoek aan ‘n pretpark, tot ‘n rit op na Tafelberg of ‘n pottebakkersles.
12. Doen dit saam
’n Mens leef maklik by mekaar verby. Die vakansie is die perfekte tyd om weer gesinsbande te versterk, mekaar beter te leer ken en sommer net lief te wees vir mekaar, maar dan moet ‘n mens ook genoeg tyd saam deurbring. Doen dus moeite om dinge saam te doen: gaan saam strand toe, gaan fliek en bou só lekker herinneringe.
13. En alleen!
Hoewel saamdoenaktiwiteite ‘n moet is vir lekker vakansieherinneringe, is dit beslis nie nodig om heeltyd alles saam te doen nie. Elkeen se idee van wat lekker is, verskil immers en ‘n bietjie alleentyd is soms net wat die siel nodig het. Ma wil dalk eerder met ‘n boek langs die see ontspan terwyl Pa ‘n potjie gholf wil speel en die kinders liewer wil swem.
14. Humor by die hope
Om die snaakse in situasies te sien, kan baie spanningsvolle situasies ontlont. Humor bou verhoudings, trek julle nader aan mekaar en help julle beter ontspan. Skaf gerus vir julle ‘n grapboek of twee aan of gaan kyk ‘n komedie!
15. Spesiale projekte
Maak gewone vakansie-ervarings ekstra spesiaal deur ‘n projek daaraan te koppel: Gee byvoorbeeld vir elke kind ‘n lys van “items” wat hulle die vakansie moet waarneem en kyk wie eerste alles op sy lysie afmerk. Of begin ‘n vakansieplakboekprojek en moedig almal in die gesin aan om foto’s volgens ‘n spesifieke tema te neem, of pak ‘n skulpprojek aan en kyk wie die mooiste skulpe kan optel en dan huisversierings daarvan maak. Dit gee julle op reënerige dae iets om julle besig te hou.
16. Opwinding op die laaste dag
Studies toon ‘n mens onthou gewoonlik dit wat jy laaste doen die beste en dat dit die beeld van jou ervaring positief of negatief kan kleur. Sorg dus dat jul heel laaste vakansiedag besonder spesiaal is, want dit is die vakansieprentjie wat jou gesin die res van die jaar met hulle gaan saamdra …
Só doen ons dit!
Melanie Voordewind van Pretoria: “Ons gesin hou baie daarvan om na ‘n plek te gaan waar swembaddens en glybane is. Ons is heeldag in die water, kom lekker moeg by die chalet en braai dan. Die kinders word gebad en ons eet almal saam aandete, dan spring ons in die bed vir ‘n fliek. Die kinders raak by ons aan die slaap, Manlief dra hulle bed toe en dan sal ons weer by die braaivleisvuur gaan sit met ‘n glasie wyn en oor alles en nog wat praat. Dis vir ons lekker!”
Rosi Adendorff van Stellenbosch: “My kinders is nou al almal uit die huis, maar wat vakansies vir ons onvergeetlik gemaak het, was toe daar geen TV was nie en ons saans saam om die tafel gesit en speletjies speel het. Bedags was almal saam see toe en op uitstappies en met etes is almal in spanne opgedeel en het elke spannetjie ‘n beurt gekry om vir die dag se middag- en aandete te sorg. Die saamdoen en saamspeel is ‘n resep vir baie lag en baie pret en bande wat weer styf geknoop word.”
SUPERWENK Hou die kamera altyd byderhand om jul goue oomblikke vas te vang!