Dis weer Valentynsdag .’n Paar jaar gelede wou ek en my geliefde een aand vinnig iets by ’n restaurant gaan eet ná ’n lang dag by die werk en kon glad nie verstaan hoekom al die restaurante vol was nie.
Dis weer Valentynsdag . ’n Paar jaar gelede wou ek en my geliefde een aand vinnig iets by ’n restaurant gaan eet ná ’n lang dag by die werk en kon glad nie verstaan hoekom al die restaurante vol was nie. Dis eers by die vierde restaurant, toe dié bestuurder ook wou weet of ons ’n bespreking gemaak het, wat ons agtergekom het dis eintlik Valentynsdag. Ons het lekker vir onsself gelag. Dié onkunde en saamlag was vir my meer werd as wat ’n bos blomme, ’n duur geskenk of ’n dergelike Valentynsgebaar sou kon wees – ons koppe werk so min of meer dieselfde oor dinge. Nie een van ons het erg aan die viering van die liefde op ’n gefor- seerde manier nie. Maar, en ek sê dit met voorbehoud, dis hoe dit vir ons is. Dit beteken nie ander mense moet soos ons daaroor dink of voel nie. Ek het vriende vir wie die dag uiters belangrik is en wat mekaar graag op die een of ander romantiese manier bederf. Wat ek eintlik probeer sê, is dat die liefde en verhoudings nie vir almal dieselfde is nie. Wat vir die een paartjie werk, werk nie noodwendig vir die ander een nie. En ons het almal verskillende persoonlikhede, agtergronde en lewensverhale wat bepaal hoe ons dinge ervaar en beskou. Tog wil ons liefhê en liefgehê word. Vra jy mense wat liefde vir hulle beteken, kan niemand dit regtig perfek uitdruk nie. Ek onthou goed hoe ons in matriek gelag het vir Bart wat in Van Melle se boek Bart Nel vir Fransina gesê het hy hou van haar. Vir ons was dit maar ’n vaal liefdesboodskap – hoekom kon die man nie sê hy het haar lief nie? Drie dekades later is Bart Nel se woorde nie vir my meer so onsinnig nie. Om iemand lief te hê, moet jy tog sekerlik van daardie persoon hou. Dalk is een van die belangrikste boustene van ’n stewige verhouding – om van mekaar te hou.
– Anne Campbell
– Alexander Smith
– Erich Fromm