Jy’t dit gehóór. Iewers terwyl jy vandag bestuur het, het jou kar ‘n geluid gemaak. Wat beteken dit?
DEUR: VIRSEKER
“Dit vat nie altyd ‘n werktuigkundige om te weet dat daar iets verkeerd is met jou motor nie. As jy iets ongewoon aan jou motor gevoel of gehoor het terwyl jy bestuur is dit die moeite werd om ondersoek in te stel,” sê Elmarie Twilley, woordvoerder van Virseker.
Hier is ‘n paar algemene geluide wat jou motor kan maak en wat hulle dalk mag beteken:
Hoe dit klink: | Wat dit beteken: |
Harde yster-op-yster skreeugeluid wanneer jy die rempedaal trap
. |
Die remskoene of –skywe mag dalk verslete wees en moet waarskynlik vervang word. |
Die stuurwiel vibreer effens, selfs op gladde en gelyk paaie. | Die wiele is waarskynlik ongebalanseerd en moet gebalanseer en belyn word. |
Die ruitveërs haak en raas wanneer wanneer hulle oor die windskerm vee. | Die rubber op die ruitveërs het verweer en vee nie meer die windskerm deeglik skoon nie. Vervang dit so gou moontlik. |
Daar’s ‘n konstante ‘woer’-klank vanuit die enjin. | Die brandstofpomp kan besig wees om onklaar te raak en moet dalk vervang word. Die motor sal tipies sukkel om aan die gang te kom, krag verloor en/of stotter terwyl jy bestuur. Jy kan dit vermy deur nie die motor se brandstoftenk tot onder ‘n kwart vol te laat daal nie. |
Jy hoor ‘n duidelike stampgeluid wanneer jy oor ‘n spoedhobbel ry. | Dit dui waarskynlik ‘n probleem met die motor se skokbrekers, of rubbers en skakels in die veringstelsel, aan. |
Jy hoor ‘n ‘klak’-geluid naby die wiele wanneer jy draai. | Die gelykeskakeling-koppelingseenheid (‘CV joint’) is waarskynlik verslyt en moet vervang word. |
Die stuurwiel kreun wanneer jy dit draai. | Daar mag dalk ‘n lek in die kragstuurmeganisme wees of die kragstuurpomp het onklaar geraak. |
Daar is ‘n harde skreeugeluid vanuit die enjin wanneer jy dit aanjaag. | Dit kan beteken dat die waaierband gly en dat dit vervang moet word. |
Jou motor se bande is beslis nie pap nie, maar jy kan ‘n ligte stampgeluid hoor terwyl jy bestuur. | Dit mag dalk as gevolg van plat kante op die loopvlak van die bande wees, veral as die motor vir ‘n geruime tyd stilgestaan het. Die loopvlak se vorm behoort te herstel na ‘n paar kilometer se ry, maar soms is plat vlakke op bande meer permanent. Indien dié geluid nie verdwyn nie, laat eerder die bande deur ‘n kenner nagaan. |
Die klank van hoë druk lug wat uit die enjin ontsnap – tipies ‘n hoë frekwensie skreegeluid. | Daar mag dalk ‘n lek in die skakel tussen die enjin en uitlaatstelsel wees, wat veroorsaak dat warm en skadelike uitlaatgasse die kajuit kan binnedring. |
Jy kan ‘n effense ‘sisgeluid’ vanuit die enjin hoor wanneer die motor luier. | ‘n Rubber of plastiese vakuumpyp of –koppeling kon dalk ontkoppel of geskeur het en moet óf weer vasgemaak óf vervang word. |
Daar is ‘n gerammel van uit die enjin wanneer die motor luier. | Maak seker of daar enige verkoelingsvloeistof onder die waterpomp is wanneer die enjin koud is. Indien wel, is die waterpomp moontlik besig om onklaar te raak. |
“Dis ook goed om seker te maak dat jou versekeraar padbystand verskaf indien jou motor langs die pad onklaar raak,” sluit Twilley af.