Nestlé SA verskaf ‘n klompie wenke hoe om gesond te eet al het jy min geld en min tyd om kos voor te berei. Nazneen Kahn, welsynbestuurder by Nestlé, sê dis belangrik om kosvoorbereiding pret te maak en jou kinders daarby te betrek.
CHRISTA SWANEPOEL
1 Bykosse
Omdat vleis duur is, kan jy kleiner porsies daarvan koop en stampmielies en bone as bykos gebruik om ekstra proteïen en energie te verskaf.
2 Oorskietkos
Sorg dat daar kos oorbly wat jy die volgende dag in jou kinders se kosblikke kan pak. Bolognese is heerlik op ‘n toebroodjie en oorskietpasta werk goed in ‘n kekerertjie-en-tamatie-slaai.
3 Bone
Voeg goedkoop groente en peulgroente soos bone, lensies, nier- en botterbone by vleisdisse om die porsies te rek en boonop energie te verskaf.
4 Koop aanlyn
Koop jou kruideniersware aanlyn en laat dit aflewer – dit spaar tyd en petrol en help jou om jou etes beter te beplan.
5 Besoek plaasmarkte
Jou kinders sal die uitstappie geniet en jy kan vars produkte teen baie goedkoper daar kry. Koop pampoen wat ’n lang raklewe het en koop bessies en vrugte in seisoen en vries dit vir smoothies en nageregte wanneer dit nie meer beskikbaar is nie.
6 Maak self sous
Die versoeking om pakkies souse te gebruik, is groot, maar kan jou duur uitwerk. Maak jou eie souse in groot maat en vries dit in kleiner houers.
7 Moenie slaaisous koop nie
Maak jou eie goedkoop slaaisous met suurlemoensap, olyfolie en balsemieke asyn soos jy dit benodig.
8 Kies maklike disse
Moenie dink jy hoef altyd groot etes voor te berei nie. Eet soms ‘n gekookte eier op ‘n snytjie volgraanbrood of sit ‘n gebakte aartappel met tuna en slaai voor.
9 Maak jou eie “wegneemete”
As jou kind van wegneemhoender hou, braai self vellose hoenderborsies in olyfolie of maak ‘n burger met volgraanbroodjies, maer beesvleis, vars slaai en laevetkaas.
10 Laat jou kinders help
Maak kosmaak pret. Laat hulle jou help om kaas te rasper of groente te skil en gebruik die kans om oor die dag te gesels.
Besoek www.tastierhealthierchoices.co.za vir nog gesonde lewenstylkeuses en toets jou voedingkennis by www.welnesiq.org