Tien vrae aan Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, wie se serebraal gestremde seun, Adam, in Augustus oorlede is:
1. Jy is altyd blymoedig, ten spyte van ’n gebrek en ’n gestremde seun. Dit kan nie altyd maklik wees nie.
Dis waar. Maar ek skryf my positiwiteit aan die twee rolmodelle in my lewe, ouma Chrissie Abrahamse en my ma, Christine le Roux, toe. Ek het in ’n arm gemeenskap grootgeword, maar daar was altyd vrolikheid. My ouma Chrissie moes vroeg uit die skool uit, omdat haar ma vroeg dood is. Sy was die oudste van vyf kinders en moet help grootmaak. Ek het haar 11de grootmaakkind geword, toe my ma moes gaan werk.
My ma en my ouma het hoede gedra kerk toe en rooi lipstiek. Hulle was groot vroue in die kerk en in hul gemeenskappe as hulle vanaand klaar gewerk het. Ouma was ’n steunpilaar in die Sustersbond en VGK. Die kerk het ’n groot rol in my lewe gespeel; nie net as kerk nie, maar as plek waar ek leierskap in aksie gesien het.
2. Jy sing van kleins af en het self die wonder van kunste ervaar?
Ek was van kleins af in die kinderkrans, jeug en koor en kon daar in ’n veilige omgewing my kreatiwiteit uitleef. Ek het baie gehoor ek is die bruin Laurika Rauch op die verkeerde tyd en plek.” Ek het na die plase toe getoer en gaan optree. Die gehore was nie gekunsteld genoeg om skynheilig te wees nie; as jy vals gesing het, het hulle jou gesê en as jy mooi gesing het, het hulle gehuil.
3. Wat maak jou hartseer in die nuwe Suid-Afrika?
Ons kruip almal so graag in ons hoekies weg. Ek ervaar Apartheid in 2018 op ’n Sondag op sy ergste. Ons skuil agter kulture en so sit die swartmense in swart woonbuurte in kerke; die bruinmense in bruin woonbuurte en witmense in wit woonbuurte. Ons reik nie waarlik uit nie. Hoekom omskep ons nie al daardie geboue in museums vir ons nageslagte en bou nuwes saam nie?
4. Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Dat ek deur Kunstekaap ’n skoleprogram kon begin vir alle skole. En dat duisende leerders kon blootgestel word aan die kunste en aanmekaar se verskillende agtergronde, tale en woongebiede. Kunstekaap speel ’n klein rolletjie om te werk aan ’n Suid-Afrikaanse identiteit binne ons diversiteit. Die lekkerte om jongmense te kan ervaar, wat sonder politieke inmenging net wil saamleef vir ’n beter gemeenskap.
5. Wat het Adam jou van jouself geleer?
Dat ek onvoorwaardelik lief kan hê. Dat Adam was my geskenk en nie ek sy geskenk.
6. Wie het jou die beste raad gegee?
Ouma Chrissie: “Maak die beste van dit wat jy nie kan verander nie.”
7. Hoe lyk die lewe ná Adam? Hoe pas julle gesin aan?
Ek kan nie dink daaraan nie. My dae was vir 16 jaar totaal gevul deur Adam.
8. Waarop spits jy jou nou toe – of is dit nou eers heelwordtyd?
Dit is om te leef dat Adam nie meer fisies daar is, ek raak nog wakker met trane en gaan slaap met trane. Leemtes en hartseer wat ek nie kan verduidelik nie.
9. Wat hou die res van 2018 vir jou in?
Ek is einde verlede jaar op albei my skouers geopereer. Dis post-poliosindroom en ook dat ek vir 50 jaar het geloop en my bolyf gehelp het met my mobiliteit. Verder as gesondword kan ek nie nou dink nie.
10. Watter leemtes het jy raakgesien in die 15 jaar as ma van ’n serebraal gestremde seun – hoe faal ons gesondheidstelsel en regering hierdie kinders?
Tans het die regering alle belange van gestremde persone in die sosiale-ontwikkelingdepartement. So mense met gestremdhede word meer op die agenda gesit as sosiale toelae.
Adam was totaal gestremd; hy kon nie praat, sien, loop of self eet nie. Ek het twee voltydse verpleegsters gehad. Die regering kyk glad nie na ma’s of die huishouding van gestremde kinders nie. So daar is nog baie om te doen en die implementering van beleide en aktiewe optrede gebeur net nie.