In aansluiting by jou positiewe ingesteldheid, is daar ’n paar praktiese dingetjies wat jy in jou dag kan inwerk om dit glad te laat verloop.
Dit vat maar ’n paar minute om hierdie dinge te doen, maar dit kan jou stres verminder, jou gemoed lig en jou meer energie vir die dag gee.
1. Maak jou bed op
Dit behels meer as om alles om jou skoon en netjies te wil hê. Sien dit as ’n klein ritueel wat vir jou ’n kalm omgewing skep waar jy rustig kan wees en beter kan slaap. As jy dit doen net nadat jy opgestaan het, kry jy onbewustelik die gevoel dat jy iets afgehandel het wat die dag gedoen moes word.
2. Ruik aan ’n suurlemoen
Moenie jou reuksintuig onderskat nie. Japanse navorsers het gevind ’n stof wat in suurlemoene voorkom, kan die veg-of-vlug-reaksie verlaag. As jy nie suurlemoene byderhand het nie, kan basiliekruid, jenewerstruik of laventel ook help om stres te verlaag.
3. Pak jou kosblik
Pak vir jou gesonde happies in soos vrugte, ongesoute neute en laevetkaas en -jogurt. Dit sal voorkom dat jy na gemorskos gryp as jy deur die dag honger word.
4. Luister na musiek
Verskeie studies toon musiek help om bloeddruk te verlaag, stres te verminder en die gemoed te lig. Die regte musiek kan jou hele ingesteldheid verander. Laai vir jou musiek op jou MP3-speler af en luister daarna wanneer jy werk of oefen. Dit maak alles wat jy doen lekkerder.
5. Mediteer
Sit gemaklik in ’n stoel of op die vloer en haal stadig en gereeld asem. As daar gedagtes deur jou kop kom, laat dit verbygaan en konsentreer op jou asemhaling. Slegs ’n paar minute per dag kan stres verlig.
6. Prioritiseer
Erken dat jy nie alles tegelyk kan doen nie. Maak vir jou ’n lys van goed wat gedoen moet word met die belangrikste dinge bo en die goed wat jy eintlik maar heeltemal kan los, heel onder. Merk dit af soos jy dit klaarkry.
7. Strek
Jy kan dit enige tyd en enige plek doen. Strek jou arms bo jou kop uit, trek jou skouers op en laat dit sak, leun met jou rug teen ’n muur en strek jou bene vorentoe. Ligte strekoefeninge verbeter jou bloedsomloop en soepelheid en gee verligting vir stram spiere weens stres.
8. Hou jou lessenaar skoon
Los papiere en vuil koffiekoppies maak jou lessenaar onordelik en strem produktiwiteit. As jou omgewing ontklotter is, sal jy onmiddellik meer georganiseerd voel en beter op jou take kan konsentreer.
9. Sit ’n slag al daai katoeters af
Dit kan jou behoorlik dreineer as jy heeldag voor jou rekenaarskerm sit. Boonop keer dit jou om aktief te raak. Dis veral belangrik dat jy dit saans doen, ’n ruk voor jy gaan slaap, sodat jy kan ontspan en rustig raak.
10. Kry vir jou ’n dankbaarheidsbottel
’n Kollega het hierdie oulike idee probeer en sy sê dit werk regtig. Skryf elke dag iets op ’n stukkie papier waaroor jy dankbaar is en gooi dit in die bottel. Ons is deur die dag opgestres oor werk, verkeer, ensovoorts en vergeet soms klein goedjies waaroor ons dankbaar kan wees. As jy die dag mismoedig en gedaan voel, kan jy van hierdie dankbaarheidsnotas uithaal en weer lees om jou aan positiewe dinge in jou lewe te herinner.
BRON: WebMD