Lang en vol wimpers is elke vrou se hartsbegeerte. Dit is dus geen wonder dat dit in die laaste paar jaar so gewild geword het nie.
Dit kan egter gevaarlik wees vir goeie ooggesondheid. Om jou sig te beskerm is daar ‘n paar dinge om in gedagte te hou, sê Meriek van den Berg, ‘n oogkundige van Mellins i-Style (www.mellins.co.za), ‘n vooraanstaande groep oogkundiges.
Met wimperverlengings word tussen 40 en 100 sintetiese wimperhare met ‘n spesifieke gom bo-op jou eie natuurlike wimpers en teenaan die ooglede vasgegom. Dit word of een vir een of in klein groepies gedoen. “Met wimperverlengings is die grootste probleem die gom wat in die proses gebruik word”, sê Van den Berg. Jy kan ‘n ooginfeksie ontwikkel as gevolg van die gom, of as jy ‘n sensitiewe vel het, kan ‘n uitslag op die ooglede ontwikkel. Sommige vroue kan selfs hulle eie wimpers tydelik of permanent verloor as gevolg van skade aan die haarfollikels of haarsakkies wat verantwoordelik is vir wimpergroei en onderhouding. Bakterieë kan ook aan die wimpers klou wat die kanse vir ‘n ooginfeksie verhoog.
Van die gom wat gebruik word bevat ook formaldehied, wat nie net toksies is nie, maar ‘n bevestigde karsinogeen (kankerverwekkend) is. Sodium dodesilbenseensulfanaat (Sodium dodecylbenzenesulfanate) aan die ander hand is ‘n irritasiemiddel en as sekere van die gom dus per ongeluk in jou oë beland, kan dit erge irritasie veroorsaak en die kornea brand of selfs permanent beskadig. Ander bestanddele soos lateks (latex) kan ‘n allergiese reaksie veroorsaak wat tot geswelde oë, moontlike irritasie en infeksie van die konjunktiva en kornea lei. Knyptang wonde kan ook voorkom, insluitende reaksies op die oplosmiddels wat gebruik word om die verlengings te verwyder of ‘n reaksie op die kleefband wat tydens die prosedure gebruik word om die ooglede toe te hou.
Verder kla pasiënte van droë oë, sê Van den Bergh. “Die rede kan wees dat die lang en vol wimpers ‘n waaiereffek met elke oogknip veroorsaak, wat lugtoevoer op die oogoppervlak vermeerder en tot droë oë kan lei”.
Belangrike wenke om te onthou wanneer jy wimperverlengings oorweeg:
- Maak seker dat die skoonheidsdeskundige toepaslik gesertifiseer is om dit veilig en korrek te doen.
- Maak seker dat die skoonheidsdeskundige higiënies werk, latekshandskoene dra en die haartangetjie ontsmet.
- Maak vooraf seker watter bestanddele die wimpergom bevat.
- Indien jy ‘n reaksie ervaar as gevolg van die gom, hou dadelik op en as enige van die gom per ongeluk in jou oë beland, moet jy dadelik by ‘n oogspesialis uitkom.