Jou haarkapper laat dit altyd so maklik lyk om jou hare met ’n haaryster te krul, maar wanneer jy tuis is en dit self probeer, lyk die eindproduk net nie dieselfde nie.
Ria Gyapersad, Kreatiewe Direkteur van Glampalm Suid-Afrika, deel hier ’n paar wenke wat jou sal help om jou hare daardie perfekte krul met ’n haaryster te gee.
Die Standard Magic Series-haaryster deur GlamPalm
– voorgestelde verkoopprys R2 400
Wenke
1. Sproei ’n hittebeskermer op jou hare. Klamp ’n klein seksie hare in jou haaryster vas. Gebruik verskillende groottes haarseksies vir verskillende groottes krulle om ’n meer natuurlike haarstyl te kry.
2. Draai jou gewrig halfpad om, trek die haaryster bietjie deur die hare, draai dit weer en hou aan om so te maak totdat jy by die haarpunte kom. As jy ’n strandvoorkoms wil hê, stop voordat jy by jou haarpunte kom.
3. Vir ’n stywer, netjieser krul kan jy ’n kleiner seksie hare gebruik en dit vanaf die middel van die haarlengte styf om die haaryster draai – soos wat jy met ’n krultang sou doen – en draai dan die yster.
4. Herhaal stap 3 met al jou hare. Vir ’n voller haarstyl kan jy die rigting van die krulle om jou gesig verander.
5. Wanneer jy jou hare klaar met die haaryster gekrul het, gebruik jou vingers om saggies deur jou hare te kam om die krulle effens op te breek. Skud jou kop liggies om die haarvolume eweredig te versprei.
6. Spuit ’n bietjie haarsproei op jou hare of wend ’n serum aan om jou nuwe haarstyl in plek te hou.