Sewe vrae aan geurspesialis of professionele parfumista, Diana Rankin van Somerset-Wes
Maryke Roberts
Het jy dit geweet …
1 Wat is die regte manier om jou parfuum te stoor?
Twee faktore wat parfuum kan vernietig, is hitte en sonlig. Bêre jou parfuum in die boksie waarin dit gekoop is. Die beste plek is in ’n koel, donker kas. Baie mense hou hul parfuum in die badkamer, waar daar gereeld warm stort- of badwater getap word, wat baie stoom afgee en hitte genereer. Moet ook nie parfuum in jou handsak dra nie, die hitte in jou motor sal dit laat verslaan of verdamp. Gebruik jou parfuum tuis en hou klein voorbeeldbotteltjies of ‘n klein hervulbare parfuumspuit in jou handsak as jy jou parfuum wil verfris.
2 Het parfuum ’n raklewe met ’n vervaldatum?
Ek het nog bykans nooit ’n vervaldatum op ’n parfuumboksie gesien nie. Die lewensduur van parfuum is direk verbind aan die gehalte van die bestanddele wat daarin gebruik is en hoe dit gebêre word. Ek het ’n kliënt wat ’n bottel Chanel No 5 het wat 20 jaar oud is. Dit het steeds ’n baie sterk Chanel No 5-geur, maar daar is ’n effense alkoholverskil en die vloeistof het ook verdonker. Die meeste parfuumvervaardigers verkondig dat ’n parfuum op sy beste is binne die eerste 18 maande ná vervaardiging. Ek laat dié besluit oor aan die persoon wat dit dra.
3 Wat is die verskil tussen Eau de Parfum en Eau de toilette?
Hierdie name word gegee aan verskillende konsentrate van parfuum-olies. Dit verskil ook van Europa en Amerika, maar oor die algemeen bevat parfuum 12-30% parfuumolie en hou die geure baie langer. Eau de Toilette en Colonge is ligter met 4-18% parfuumolies. Laasgenoemde is gewoonlik heelwat goedkoper, maar moet meer gereeld aangespuit word.
4 Waarom is parfuum so duur?
Dis ’n ingewikkelde proses en die gehalte van die bestanddele speel ’n groot rol. Ook wie die parfuum maak en die ontwerp van die bottel. Bekende parfuumhuise betaal baie vir bemarkingsveldtogte en dit word ook na die verbruiker deurgegee. In Suid-Afrika is ons ook ver van die oorsprong, so ons het met middelmanne, vervoer en invoerbelastings te make.
5 Watter elemente is noodsaaklik in ’n parfuum?
Ek besef toenemend hoe persoonlik hierdie vraag van aard is. Wat vir een geld, geld nie vir die ander een. Wat ek wel vind, is dat vroue vra vir die parfuum wat die langste gaan lekker ruik. Dit moet ook ’n positiewe herinnering oproep. Dit moet iets in jou roer. Ek glo ook dat ’n parfuum nie by die modes en giere moet aanpas nie, maar die toets van die tyd moet kan deurstaan.
6 Is daar heelwat ander mense wat jou beroep in Suid-Afrika beoefen?
Ek het nog nie iemand in ons land teëgekom wat my werk doen nie, maar dit beteken nie daar is niemand anders nie, dit beteken net dat ek hulle nog nie ontmoet het nie. Ek bewonder twee Suid-Afrikaanse parfumeurs, Tammy Frazer van Frazer Parfums en Sophia Shuttleworth van African Aromatics.
7 Watter kwalifikasies is nodig om ’n professionele parfumeur of “Neus” te word?
Enigiemand kan ’n parfuum meng, maar om ’n “Neus” te word, verg soms sewe jaar se studie. Hiervoor is wetenskap en wiskunde noodsaaklik. Ek sou sê as dit jou loopbaan van keuse is, is ’n goeie plek om te gaan studeer, Givaudan in Grasse, Frankryk.
SOURCES
Martin van Niekerk