Jy het uiteindelik die perfekte smokey-eye reggekry, maar nou sit daar stukkies maskara op jou kontaklense vas en jou oë begin onbedaarlik traan.
Dis nie net irriterend nie, dit kan ook infeksies veroorsaak. Gary Sher van Eyesupply, ʼn aanlyn kontaklens-verskaffer, vertel ons hoe ons grimering én kontaklense kan dra sonder om oë te irriteer.
Begin só
- Was altyd jou hande voordat jy aan jou kontaklense raak.
- Sit jou kontaklense in voordat jy begin grimeer.
- Probeer om slegs hipoallergeniese grimering so ver moontlik te gebruik. Vermy waterdigte grimering of die met ʼn oliebasis.
Oogskadu
- Gebruik ʼn romerige oogskadu (die met ʼn waterbasis is beste) sodat jy nie klein krummeltjies in jou oë kry nie.
- As jy poeierige oogskadu verkies, gebruik vasgedrukte eerder as los poeiers.
- Maak jou oog toe terwyl jy aansmeer en vee eers oortollige poeier af voordat jy jou oog oopmaak.
- ʼn Ooglid-primer sal help dat jou oogskadu beter en langer aanbly.
- Bly weg van oogskadu wat glinsterstof bevat.
Oogomlyner
- Smeer slegs aan die buitenste deel van jou ooglede en vermy vloeibare oogomlyners.
Maskara
- Gebruik ʼn hipoallergeniese -en olievry maskara
- Vermy maskaras wat veseldeeltjies bevat om wimpers te verleng.
- Moet nooit waterdigte maskara saam met jou kontaklense dra nie.
Laastens
- Haal altyd eers jou kontaklense uit voordat jy grimering afhaal.
- Vervang jou ooggrimering gereeld – minstens elke twee tot drie maande.
- Moet nooit jou ooggrimering deel nie.
- As jy daagliks baie ooggrimering dra, gebruik eerder ‘daaglikse’ kontaklense. Dis effens duurder, maar daar is minder kans vir infeksie en rooiheid.