Die kenners by Pandora Bra Studio vertel ons meer …
Natasha van Wyk
Geheim #1 Die ‘hoe’ en ‘wat’ oor bra-groottes
80% van vroue dra die verkeerde bra-grootte. ‘n Gepaste bra moet die regte holtegrootte wees en reg om jou rug sit. Dit moet ook die regte styl wees en gemak speel ook ‘n belangrike rol.
Kleiner vroue met groot borste sal gewoonlik ‘n groter snit om die rug kies, net om ‘n groter holtegrootte te kry, maar onthou – holtegrootte neem toe in verhouding met bandjie-grootte. Dit begin dus met die regte grootte om jou rug.
Geheim #2 Die snit vir jou
Die agterkant van jou bra moet stewig, maar gemaklik in ‘n horisontale posisie sit. Die bandjies is daar om borste te lig en te posisioneer. Trek die bandjies net styf genoeg waar dit steeds gemaklik is. As jou bra (bv. grootte 34) agter lig, is dit te groot en jy moet ‘n kleiner grootte (bv. grootte 32) kies.
Geheim #3 Belê in jouself
Jou bra is ‘n belegging in jouself. Die regte bra gee vorm in die regte plekke en kontoer jou silhoeët. Dit kan jou ook maerder laat lyk deur borste te lig en definisie tussen jou borste en maag te skep.
Geheim #4 ‘n Goeie ervaring
Jy moet nooit voel dat ‘n bra jou ribbekas platdruk nie.
Toets self of die band om jou rug reg pas.
Lig jou arms op. As die snit reg is sal die band in plek bly. As dít ook lig beteken dit:
a) jy het nie jou borste behoorlik in die bra-holtes geplaas nie, of
b) jou bra is te groot.
Geheim #5 Groet brabandjies wat afgly
‘n Bandjie wat gly kan beteken jou braholte-grootte is te groot, jou bandjies is nie styf genoeg getrek nie of die bra is te groot. Soms kan die verkeerde styl bra ook die probleem wees.
*ONTHOU Wanneer jy ‘n bra koop moet dit gemaklik om die eerste of tweede verstelling sit. Jou bra rek oor tyd met al die was en dra, so die derde verstelling is net vir dié geval, anders gaan die bandjies te vinnig rek en slap raak en van jou skouers afgly.
Geheim #6 Behandel jou borste reg
Tepels moet in die middel van die braholte wees. Indien nie, moet jy ‘n groter holtegrootte kies. Jou borste moet die hele holte vul anders gaan daar te veel ruimte tussen jou borste en die bra wees.
Geheim #7 Hou dit binne
As jou bra se holtegrootte reg is sal vel wat uitsteek (en veral sigbaar is onder stywer klere) nie gebeur nie. Die regte bra druk jou vel nie in ongewenste posisies in nie.
Geheim #8 Rooi merke van té stywe bandjies
Hierdie is ‘n teken dat die braband agter nie sy werk doen nie en jou bandjies moet oorneem om jou borste te ondersteun. ‘n Goeie bra ondersteun borste rondom jou ribbekas. ‘n Bra wat sleg pas, en swaar borste, sit meer druk op jou skouers. Breër bandjies sal hiervoor help, asook die regte bandgrootte om jou ribbekas.
Geheim #9 Die naatlose voorkoms
‘n Bra sonder kant of patrone sal glad en naatloos onder jou klere lyk. Dit het niks te doen met bragrootte nie, eerder net styl en persoonlike keuse.
Geheim #10 Sit jou borste op hul plek
Kanse is goed dat jou een bors effens groter as die ander een is.
“’n Bra wat goed pas is belangrik om goed te voel. Dit verbeter jou voorkoms, jou postuur en jou selfvertroue,” sê Mo. “By Pandora Bra Studio bied ons oplossings sodat jy jou perfekte brastyl- en grootte kan kry.”