Daar is tans baie dinge om oor bekommerd te wees en mense is veral bekommerd oor hul finansies en hul finansiële toekoms
Te midde van die inperking en wêreldwye pandemie, is mense oor hul gesondheid en algemene welstand, maar ook oor hul finansiële welstand bekommerd.
Ons sien hoe swak dit nou op markte gaan en ons weet hoe sukkel die ekonomie tans. Ons weet van klein ondernemings wat dit nie gaan oorleef nie en dan is ons ook nog oor ons April-salarisse bekommerd. Ons het wenke gaan soek.
TymeBank se hoof van strategie, Greg Illgner, gee die volgende wenke oor hoe om die krisis te oorleef:
- Moenie paniekerig raak nie en moenie oorhaastige geldbesluite neem nie. Die beste plek vir geld is nou ‘n spaarrekening met ‘n hoë rentekoers. “Jou geld is steeds baie veilig in die bank.”
- Dis dalk beter om veral in die lig van die pandemie nie nou kontant te hanteer nie. Betaal liewer met ‘n kaart.
- Laat rente vir jou werk deur mooi na rekenings en hul koerse te kyk.
- Baie Suid-Afrikaners vertrou nie banke nie, maar jy sal verbaas wees oor hoe jou geld in die bank kan groei.
- Wees versigtig vir lenings. Ons weet nie wat die toekoms bring nie en dis belangrik om twee te keer te dink voor jy enige lenings aangaan. Doen dit net as jy regtig moet en as jy wel ‘n lening uitneem, maak seker dis by ‘n instelling wat jy vertrou.
Wenke vir strawwe tye
- Die eerste stap tot verantwoordelike geldbestuur is om ‘n begroting op te trek waar al jou inkomstes en uitgawes gelys word. Gaan bankstate na om seker te maak al die uitgawes word gelys.
- Trek die gordel stywer wat luukshede betref. Besluit wat krities belangrik is en wat nie.
- As jy kos koop, wees op die uitkyk na spesiale aanbiedinge. Kyk eers aanlyn na watter winkels die beste aanbiedinge bied voor jy winkels toe gaan.
- Bou ‘n noodfonds op wat julle in krisistye kan help.
- Talle banke bied verligting ten opsigte van verband- en kredietkaartpaaiemente. Doen daarvoor aansoek as jy weet jou salaris gaan beïnvloed word.
- As jy ‘n klein onderneming wat nou swaar getref word, doen vir hulp aansoek.
- Dis ‘n goeie tyd om weer na lewensversekering te kyk en te kyk wat jou mediese fonds jou als bied.
- Moenie nou in ‘n geldmaakskema ingetrek word nie. As jy wil belê, praat met ‘n geakkrediteerde finansiële adviseur.
Besoek www.tymebank.co.za
Zerelda is ons adjunkredakteur en werk al vir 13 jaar met woorde by Vrouekeur. Sy het joernalistiek studeer, skryf graag kortverhale en gedigte en droom van ’n digbundel én ’n roman – voor sy 80 word.