Stephen Buckley, wys daarop dat die mens nou eenmaal ’n sosiale wese is en dat die behoefte aan kontak met jou medemense oor Kersfees soveel sterker is.
Wanneer jy alleen is, is dit of jou probleme groter is. “Daarom behoort jy dan iets te doen waarvan jy hou en waarvoor jy normaalweg nie die tyd het nie,” gee hy raad. “Moenie huiwer om jouself te pamperlang en op daardie manier te troos nie.”
Oorleef Kersfees alleen
Wanneer jou kinders of geliefdes oor Kersfees oorsee is en nie by jou kan wees nie, is dit nie maklik om ander gesinne vrolik en gelukkig in hul samesyn te sien nie. Maar dit help nie om in sak en as te gaan sit en treur nie. Om arme martelaar te speel in ’n poging om jou kinders te laat skuldig voel, baat ook niemand nie. Ook vir jou kinders is dit nie altyd maklik om ver van die ou en vertroude af weg te wees nie.
Die skrywer, Annetjie van Tonder, erken prontuit dat hulle oor die feesdae baie na hul oorsese kinders verlang. Dit troos haar dat hulle Kersfees saam met haar dogter in Pretoria kan deurbring. Maar daar was ook al tye toe hulle hierdie spesiale dae alleen moes wees. “Dan kuier ons maar op die internet. Skype is wonderlik, maar jy kan nie jou kinders of kleinkinders teen jou vasdruk nie.”
Maniere waarop jy die dag vir jou kan opkikker
- Nooi ander eensames om die dag by jou deur te bring. Of maak die dag lekker vir iemand wat selfs minder as jy het om oor bly te wees.
- Of nog beter – vergeet heeltemal van bak en brou hierdie jaar en gaan eet ’n vyfgangete in ’n hotel, waar jy tussen ander mense kan wees as dit is wat jy wil hê.
- Trek vir jou ’n mooi rok aan en neem ’n selfie by die see – of langs die mynhope as jy in Johannesburg bly. Sodat jou kind kan sien jy oorleef en is gesond en gelukkig genoeg. Hy mag dus ook maar die dag sonder jou geniet.
- Luister na mooi Kersliedere, huil ’n bietjie as dit nodig is, maar sing ook hartlik saam, veral by die jubel en juig-dele.
- Koop vir jouself ’n duur en dekadente ding. Daardie een geskenk wat jy nog altyd graag wou hê en waaraan nie een van jou huismense sou dink om vir jou te gee nie, al skimp jy ook dat die blou dampe staan.