Die blote verwysing na ’n feminis kan negatiewe gevoelens opwek, veral deur die wat nie saamstem met die beskouing van gelyke regte vir vroue nie.
Die mite oor die bra-verbranding
Die beeld van die stereotipe militante feminis wat haar bra van haar lyf afpluk en melodramaties in die vuur gooi om tot as verbrand te word, het deur die jare heen ’n stertjie of twee bygekry en is nie veel meer as ’n blote mite nie. Dis ’n gewilde toneeltjie wat van geslag tot geslag geskilder word van hoe die juk van manlike onderdrukking op tasbare wyse van jou skouers afgegooi kan word.
Daar was wel ’n insident by die 1968 Mejuffrou Amerika-skoonheidskompetisie toe ’n groepie vroue betoog het met plakkate wat verkondig het dat vroue as mense beoordeel moet word, nie as skoonhede nie. ’n Lewende skaap het ’n kroon op die kop gekry en Playboy-tydskrifte, vals ooghare, skoonheidsmiddels, hoëhakskoene, bra’s en stywe onderklere is in ’n vullisdrom gegooi. Dit moes dien as simbool vir vroue-vryhede. Sensasionele foto’s, spesifiek van bra’s wat in die drom gegooi word, is die wêreld ingestuur. Van ’n verterende vreugdesvuur, soos dit vir dekades daarna in die gedagtes gesien is, was daar geen sprake nie. Maar tog het die mite, waarmee daar dikwels gespot word, meer gewig verleen aan die boodskap wat feministe wou uitdra.
LEES OOK: Vrouekwessies: Menopause en die Papsmeer
Oor prinse en prinsesse
Devorah Blachor, skrywer van The Feminist’s Guide to Raising a Little Princess vertel van haar driejarige dogtertjie wat, soos so baie ander ’n fassinasie ontwikkel het met prinsesse. Dis al wat haar hartjie begeer het – om soos ’n prinsessie geklee te wees. In pienk met soveel blinkertjies as moontlik besprinkel. Die enigste stories wat sy wou hoor, was dan ook oor prinse en prinsesse.
Vir ’n volbloed feministiese ma was dit ’n nagmerrie. Sy wou nie haar dogter grootmaak as die passiewe tipe wat wag vir ’n ridder op ’n perd om haar te kom red nie, juis omdat sy weet dat ridders voete van klei kan hê en sommige perde donkies is. “’n Kind leer geweldig baie deur boeke en die tradisionele prinsesse in die meeste gewilde kinderverhale is beeldskoon. Dit behoort nooit die voorvereiste te wees vir ’n lang en gelukkige lewe nie.” Daarom beveel sy aan dat kinders, selfs in die kleuterstadium blootgestel moet word aan prinsesse wat weet wanneer om die tiara van hul koppe af te haal en self die drake storm te loop. Selfs die ridders – én die drake kan ’n les daaruit leer.
Eienskappe waaraan jy ’n sterk vrou kan uitken:
Sy leef gebalanseerd tussen haar eie belange en die van ander. Selfliefde en eiebelang is nie dieselfde as selfsug nie. Sy leef passievol, maar sy laat nie toe dat haar man, die liefde in haar lewe of enigiemand anders haar bestaan as mens definieer en beheer nie.
Sy verkondig waarin sy glo en laat nie toe dat die stem van die meerderheid hare oordonder nie. Sy het respek vir haarself en beskerm haar menswaardigheid ten strengste.
Tog gee sy nie toe aan arrogansie nie.
Sy hou nie noodwendig altyd ’n front voor nie. Dis nie vir haar vernederend om haar gevoelens en emosies te wys nie. Eerlikheid ten opsigte van haar swakhede is nie vir haar ’n bedreiging nie. Daarom boesem sy ook vertroue by ander in. As jy seker kan wees daar is nie verskuilde motiewe in haar optrede nie, hoef jy nie altyd waaksaam te wees nie. Of te raai wat haar bedoelings met jou is nie.