Dis met groot verwagting en lekkerte wat ons kleingoed na Kersfees uitsien, maar daar is nog vyf dinge wat vir hulle hierdie tyd ekstra spesiaal sal maak
Dis heerlik om geskenkies te ontvang, maar kinders kort meer as net toegedraaide pakkies onder ‘n boom …
Cindy Glass, die direkteur en medestigter van die Step Up Education-sentrums sê geskenke word met allerlei “goeters” geassosieer, soos speelgoed, katoeters en speletjies. Die opsies is eindeloos. “Hierdie goeters is tydelik opwindend, maar gee nie langtermyngeluk of vervulling nie. Ons kinders kort menslike kontak, vervullende ervarings en die geleentheid om leiers te word wat die lewe aangryp. Dis tyd vir ‘n kopskuif.”
Sy noem vyf dinge wat hierdie feestyd vir kinders iets sal beteken:
1. Tyd
Jou kinders waardeer jou tyd, aanmoediging en jou betrokkenheid in hul lewe. Doen nou dinge saam en luister werklik as hulle met jou gesels.
2. Om te gee
Maak jou kinders betrokke om geskenkies te versier en leer hulle hoe lekker dit is om te gee. Kry hulle betrokke by pakkies vir minderbevoorregte mense.
3. Empatie
Skep ‘n houding van liefde, empatie en dankbaarheid by jou kinders. Besoek dalk saam ‘n diereskuiling of ouetehuis.
4. Ervarings
Doen iets saam met jou kinders wat jy nog nie vantevore gedoen het nie en skep só kosbare herinneringe. Gaan stap dalk iewers, of probeer ‘n nuwe avontuuraktiwiteit. Skep positiewe herinneringe.
5. Kreatiwiteit
Probeer om saam Kersgeskenkies, kaartjies of ander bederfies te maak. Loer op Pinterest vir oulike idees.
BRON: www.stepuped.co.za