Kerstyd is veronderstel om vrolik en feestelik te wees, maar ná die dood van ’n geliefde lê dié tyd soos ’n berg voor baie mense
Deur MARETHA BOTES
Wanneer jy ’n geliefde aan die dood afgestaan het, lê daardie eerste Kersfees sonder dié persoon soos ’n digte misgordyn voor jou. Jy weet nie hoe jy daardeur gaan kom nie, maar jy moet.
“Die eerste Kersfees ná James se dood was ek nog in totale skok en ontkenning,” sê Marié Swart, algemene praktisyn en ma van twee seuns. “My groot verlies was nog glad nie vir my ’n werklikheid nie.”
Marié en James was kinderlik opgewonde om hul agste huweliksherdenking op 13 Desember 2011 te vier. Drie weke voor dié groot dag was James in ’n baie ernstige motorongeluk en is ’n week later aan sy beserings dood.
Skielik was Marié en haar twee kleuterseuntjies alleen. Sy moes deur ’n feestyd kom, buiten Kersfees ook die hele gesin se verjaardagvieringe.
“Binne elf weke moes ek al die ‘eerstes’ waarvan almal altyd praat (sonder James) hanteer,” sê Marié. Dit was Kersfees, Nuwejaar, hul twee kinders se verjaardae vroeg in Januarie, asook Marié en James se verjaardae kort daarna in Februarie.
“Al wat ek wou doen, was om weg te kom uit Potchefstroom, waar mense met deernis en goedhartigheid my drempel deurgetrap het. Om in die winkels te loop, was vir my ’n straf. Hoe kan ’n mens na vrolike Kersmusiek luister en die ontspanne glimlagte van ander mense sien terwyl jy diep binne-in jou gebroke en dood voel ná die verlies van jou groot liefde? Ek was emosioneel totaal afgestomp, het bitter min gehuil en net in Pretoria gaan bestaan,” sê sy.
Marié-hulle het altyd Kerstyd saam met familie deurgebring en was nooit oor dié tyd op Potchefstroom (waar hulle gewoon het) nie. Sy het die jaar ná sy dood glad nie kans gesien om alleen saam met die kinders te wees nie en is na haar sussie in Pretoria. “My ma woon ook in Pretoria. Ek het dus my heel naastes by my gehad om met die heelwordproses te help, of soos my swaer gesê het: Ek moes eers by hulle kom gesond word.”
Die kinders se niggie en nefie het baie gehelp deur te heerlik te speel en dit het Marié tyd gegee om ’n bietjie alleen te wees. “My kinders was nog bitter klein. Hulle het geweet Pappa woon nou by Jesus en dit was in daardie stadium genoeg. Solank Kersvader nog kom kuier en geskenkies bring, was hulle tevrede. En hy was Oukersaand daar om glimlagte op die kindergesiggies te sit. Ons het die Kersverhaal gelees en Kersliedere om die Kersboom gesing, maar die plek langs my was leeg,” vertel Marié.
LEES OOK: Die dood van ‘n ouer
Sy is oudergewoonte die volgende dag kerk toe. “Dit was waarskynlik die moeilikste dag in my lewe. Om op Kersdag in die kerk te staan met twee klein lyfies langs my sonder ’n arm om my lyf en daardie sagte oë wat ’n oomblik lank met myne kontak maak en my laat glimlag oor die vrede en liefde tussen ons … Dit het gevoel of ek soos ’n seer vinger uitstaan in my eensaamheid; asof ek die enigste een is wat ooit hierdeur moes gaan.
“Ek het skielik nie meer geweet wat om met my hande te doen nie. Ek wou nie eers rondkyk nie, want almal sou my weerloosheid raaksien. Op dáárdie oomblik het die realiteit my getref. Maar hoe wonderlik was dit nie om my ma en een van my susters weerskante van my te hê; om hul arms om my te voel nie. ’n Drukkie van hoop.
“My plan was om eers ná Nuwejaar terug te gaan Potch toe, maar ek is reeds op 27 Desember terug om ’n nuwe normaliteit te gaan skep. Ek en my twee seuns.” Vir Marié was die eerste Kersfees die tyd wat
die werklikheid haar soos ’n klip getref het. Sy glo die tweede Kersfees ná James se dood was eintlik haar “eerste”. “Ek is agter my sus-hulle aan Jeffreys toe om weer by familie te kon wees. Ek het die tyd deurgehuil van verlange,” vertel sy. Maar daar was hoop.
“In daardie jaar het ek gesien wat ware vriendskap is en dat God ’n mens nooit werklik verlaat nie. As die kinders sien ek huil, sou hulle vra: ‘Mis jy vir Pappa?’ Daardie drukkie wat hulle my met soveel liefde gegee het, het met die heelmaak gehelp.” Marié sê die grootste fout wat mense kan maak, is om daardie eerste Kersfees alleen by die huis deur te bring.
“Gaan ’n bietjie weg. Gaan bring die tyd saam met geliefdes deur, waar jou kinders niggies, nefies of maatjies het sodat jy daardie tyd het om oor jou verlies te rou. Dit maak die tyd vir jou en die kinders makliker. Om te huil en te verlang, is normaal en baie belangrik. Om dit alleen te wil doen, is fataal,” sê Marié.
Dit was bitter erg
“Ek dink nie dit sal ooit weggaan nie. Ek weet ook nie hoe lank dit gaan seer bly oor Kerstyd nie, maar ek vermoed die tweede Kersfees gaan klaar ’n bietjie makliker wees,” sê Marlize Leyden, skrywer en joernalis, oor Kerstyd ná die dood van ’n geliefde.
“Die eerste Kersfees het soos ’n berg voor my gelê. Dit was bitter erg,” sê sy. “Ek is dankbaar vir familie by wie ons in dié tyd kon wees.”
Marlize se ma, Marina (66), is in Julie verlede jaar ná ’n lang siekbed dood. Sy en haar pa het besluit om daardie “eerste Kersfees” saam met haar ma se suster en broer op Lichtenburg deur te bring.
“Dit is mense wat dieselfde as ons oor my ma voel. Dit was net gepas,” sê sy.
Marlize en haar pa het ’n video gemaak met foto’s en musiek waarmee hulle graag haar ma wil onthou.
“Ons het dié video op haar roudiens gespeel en weer met Kersfees. Ons sal dit seker nou elke jaar speel om haar te onthou,” sê Marlize.
“Huil as jy wil huil. Dit laat ’n mens beter voel!” sê sy. “Mense het vir my gesê ek moet die mooi goed onthou. Vir my was een van die beste maniere om dít te doen deur foto’s van haar te soek waar sy ‘tipies Marina’ was en lawwe goed aangevang het wat ons laat lag het. Ek soek na foto’s waar sy gelukkig gelyk het.”
Marlize sê mense moet besef hoe belangrik dit is om iets van jouself – iets waarin jou kinders ’n identiteit kan vind – agter te laat. “Maak ’n fotoalbum of skryf jul familiestorie neer,” sê sy.
As ’n legkaartstuk weg is
Braam Klopper, pastorale terapeut van Kempton Park, sê Kersfees is, soos verjaardae en huweliksherdenkings, betekenisvolle gebeurtenisse en daarom is dit so ’n intens moeilike en selfs traumatiese tyd ná ’n afsterwe. “’n Betekenisvolle geleentheid sonder iemand vir wie ons lief is, maak dit op sigself ’n hartseer geleentheid,” sê hy. “Dink maar hoeveel moeite doen mense om in die Kerstyd saam te wees. Hulle ry of vlieg groot afstande, beplan hul verloftye só, ensovoorts. As iemand dan nié daar is nie, is dit in skrille kontras met die saamweesgedagte. Dit is asof Kersfees met ’n dik rooi pen onderstreep ‘Hy is nie hier nie!’ Die ander metafoor is dié van ’n legkaart: Stel jou voor dat jy na ’n voltooide legkaart van 1 500 stukke kyk, maar daar is net één stukkie weg. Wat sien ’n mens eerste raak? Natuurlik die leë plekkie!”
Braam gee die volgende riglyne vir daardie eerste Kersfees:
- Verwag dit gaan moeilik wees.
- Beplan hoe julle die dag gaan inrig sodat dit julle nie skielik oorval nie. As ’n mens die dag beplan het, kan jy wanneer die dag aanbreek, letterlik net jou plan volg. ’n Mens kan beplan om die oggend ’n Kersdiens by te woon (deel van tradisies en rituele), om daarna na die graf of gedenkmuur te gaan en blomme daar te plaas. ’n Mens kan ’n spesifieke tyd beplan waarop ons ons herinneringe aan die geliefde met mekaar gaan deel, al gaan dit vir ons baie emosioneel wees. Emosies is nie sleg of negatief of skadelik nie, maar normaal. Dit kan ook van waarde wees om ’n foto van die geliefde daar by die byeenkoms teenwoordig te hê. Daardeur erken ons dat hy/sy ’n wesenlike deel van ons lewe gevorm het.
- Dis baie belangrik dat ’n gesin méér moet doen as om die hele dag net aan hartseer te wy. Ons kan nie net op ’n hopie sit en treur nie. Daar moet ook iets van ons “voortgang met die lewe” tot sy reg kom. Geniet ’n Kersete saam met geliefdes, want julle het mekaar nog. Die beginsel wat hieragter lê, is dat ons op Kersdag ten volle erkenning aan ons geliefde en aan ons hartseer gee, maar nie net dit doen nie.
- Dit is belangrik om ná die dood van ’n geliefde met rituele en tradisies voort te gaan, want ons lewe nog en in die voortsetting van tradisies eer ons ook die nagedagtenis van ons geliefde. Daar mag beslis ook tradisies verander. Ons mag kies om sekere dinge weg te laat, by te voeg of net “anders” te doen. Ons gesinsamestelling het nou verander en daarom mag ons aanpassings maak. Iemand anders kan ook die rol oorneem wat die geliefde gespeel het, soos om Kersvader te speel.