Internasionale Familiedag word op Dinsdag 15 Mei gevier. Famsa sê vir ons hoekom dit belangrik is
Dis lekker om tyd saam met jou geliefdes deur te bring en daar is ‘n spesiale dag om hierdie mense te vier, 15 Mei.
Noelene Blekkenhorst, voorsitter van Famsa WC (Familie Suid-Afrika Wes-Kaap), sê hierdie dag lê klem op die belang van gesonde verhoudings met familie en gee erkenning aan gesinstrukture as die kern van ons gemeenskap.
“Die biologiese, nukleêre familiemodel soos ons dit ken – ouers en kinders, met uitgebreide familie soos ooms, tannies, niggies, nefies en grootouers – verander. Dis vandag die mense met wie ons die meeste van ons tyd deurbring, wat ons familie word. Dink hier aan kollegas, huismaats, vriende en liefdesmaats,” sê Noelene. “Met ander woorde, dié wat naaste aan jou hart is.”
Sy sê Internasionale Familiedag bied ’n geleentheid om bewustheid te skep aangaande persoonlike probleme wat in families kan opduik, en ook om kennis te verbreed oor die sosiale, ekonomiese en demografiese faktore wat dit beïnvloed.
Hoe kan jy deelneem?
Die simbool vir Internasionale Familiedag is ’n huis met ’n hart. “Dit lê klem daarop dat families die kern van ons samelewing is en voorsien ’n stabiele en ondersteunende tuiste vir mense van alle ouderdomme,” sê Noelene.
Om die siklus van armoede te breek, het Famsa WC ’n werkskeppingsveldtog van stapel gestuur vir werklose vroue om materiaalharte te maak. Famsa WC gaan hierdie harte verkoop om fondse in te samel om voort te gaan om hul gesubsidieerde dienste te bied aan enigeen wat dit mag benodig. Dié handgemaakte harte kan met ’n speld vasgesteek word om ondersteuning te toon vir die belang van familielewe.
“FAMSA WC se droom is om Internasionale Familiedag ’n instelling te maak deur soveel mense as moontlik aan te moedig om ’n hart op 15 Mei te dra,” sê Noelene.
Hoe kan jy dié dag vier?
- Stop en bring minstens 15 minute deur saam met jou mense.
- Luister na jou geliefdes en kyk of jy vir hulle ’n goeie daad kan verrig.
- Dra ’n materiaal-hart.
- Deel ’n maaltyd saam met geliefdes.
- Skep bewustheid en deel jou storie.
Hoe kan jy jou storie deel?
Plaas op sosiale media wat jy gedoen het op Internasionale Familiedag met die hutsmerk #thoseclosesttoyourheart en noem die mense wat naaste aan jou hart is in jou plasing. Jy kan ook @famsawc noem sodat jou storie gedeel kan word.
“Jy kan ook ’n hart êrens sit waar jy dit elke dag kan sien, as ’n herinnering aan dié wat naaste aan jou eie hart is,” sê Noelene.
Besoek www.famsawc.org.za vir meer inligting of stuur ’n e-pos aan [email protected]. Jy kan hulle ook volg op Facebook (A@FamiliesSAWesternCape), Twitter (@FamsaWC) of Instagram (@famsawc).