Jou geliefde laat jou nie geliefd voel nie. Wees op die uitkyk na dié vorms van verbale mishandeling
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
“Dit het my lank gevat om te besef dat ek in ‘n mishandelende verhouding was,” vertel Moira* (43).
“Hy het nooit sy hand vir my gelig nie, maar daar was altyd hierdie stekies in my rigting. Die grappies oor my wat net vir hom snaaks was, sy stilstuipe, die beledigings, die afkraak en die aanhoudende gemor en geskree oor niks. Toe hy later sy woede op my kinders rig, het ek besef ons moet wegkom … en ons het.”
Daar is “gelukkig” nie fisieke geweld in jul verhouding nie, maar jy is nie gelukkig nie. Jy word afgekraak, verkleineer, afgebreek totdat jy later begin dink jy is net so nikswerd soos hy sê jy is. Kenners sê dis belangrik om die tekens betyds raak te sien.
Patricia Evans identifiseer in haar boek The Verbally Abusive Relationship ‘n aantal vorms van verbale mishandeling.
- Niks word gedeel nie
Jou maat weerhou inligting van jou en deel nie sy of haar gedagtes of gevoelens nie. Iemand wat inligting weerhou, weier om deel van ‘n gesonde verhouding te wees. As hy of sy wel iets met jou deel, is dit bloot funksionele of feitelike inligting.
- Jy’s niks
Dit maak nie saak wat jy sê nie, jou maat stem nooit met jou saam nie en probeer jou altyd oorreed dat jy verkeerd is. Jy word gereeld afgelag of eenvoudig geïgnoreer.
- Wat jy voel, is nie belangrik nie
Jou emosies en gevoelens word misken. Jy word uitgekryt as te sensitief, te kinderagtig, dat jy geen humorsin het nie of ‘n issue van alles wil maak.
- Dis net “grappies”
Hy of sy sê iets afbrekends vir jou, maar dan moet jy hoor dis net ‘n grappie. Grappies wat seermaak, is nie grappies nie.
- Jy word “geblok”
Die mishandelaar besluit wat “goeie” gespreksonderwerpe vir julle is. Jy word vertel dat jy uit jou beurt praat of net te veel kla.
- Beledigings en beskuldigings
Jy kan dalk konstant beledig word en van allerlei dinge beskuldig word. Dit maak nie saak wat jy doen nie, niks is ooit reg nie. Jou werk, jou klerestyl, jou vriende, selfs jou gunstelingkos word verkleineer.
- Daar’s dreigemente
Jy hoor dinge soos: “As jy nie hou van wat jy doen nie, loop ek” of
“as jy nie doen wat ek sê nie, sal ander ook weet hoe dom jy is”.
- Jy word beheer
Jy het omtrent geen sê in die verhouding nie en word beveel wat om te doen en nie te doen nie.
- Ontkenning van swak gedrag
Die mishandelaar erken nie sy gedrag nie en regverdig altyd sy of haar negatiewe optrede.
- Woede
Jou maat skree of vloek op jou.
BRON: Evans, Patricia (2009), The Verbally Abusive Relationship