Verpes jy jou werk? Daar is dinge wat ‘n mens kan doen om jou gelukkig by die werk te hou
Ongelukkig is almal nie so gelukkig by die werksplek soos ek en my Vrouekeur-kollegas nie.
Daar is verskeie stressors in die werksplek soos spertye, vergaderings, moeilike base en dit kan werknemers geestelik gedreineer en fisiek uitgeput laat voel.
Kan ons ten spyte van hierdie stressors by die werk floreer?
Volgens ‘n onlangse studie, Flourishing via Workplace Relationships: Moving Beyond Instrumental Support, wat in die Academy of Manegement-joernaal gepubliseer is, kan jy inderdaad, maar net as jy positiewe werksverhoudings bou.
Die studie wys dat werk nie “slegs besigheid” is nie. Ons werk en persoonlike lewe loop hand en hand en die verhoudings wat ‘n mens by die werk vorm, het ‘n impak op jou lewe. Positiewe werksverhoudings help jou om jou werk beter te doen, jy kan takies suksesvol afhandel, raad kry en iemand kan jou help.
Respondente in die studie het gepraat oor diep vriendskappe wat hulle by die werk ontwikkel het en van persoonlike groei wat hulle daardeur ervaar het. Vir die respondente was dit heerlik om vriendskappe by die werk te vorm en selfs aan ’t huis te kuier en prettige dinge saam te doen.
Die resultate van die studie toon as jy vriendskapsverhoudings by die werk het, kan dit positiewe emosies by die werk ontlok en het jy meer pret by die werk.
Werksplekverhoudings wat persoonlike groei ondersteun, lei daartoe dat mense floreer. Respondent het ook gesê dit verskaf hulle groot bevrediging om by die werk te “gee”, soos om ‘n nuwe kollega iets te leer, ‘n kollega te help of geleenthede vir ‘n kollega te skep.
Die stories oor vriendskappe, persoonlike groei en om by die werk te gee, wys duidelik dat ‘n mens steeds mens by die werk is. Werknemers is nie masjiene nie en die maatskappy wat in hul mense se geluk belê, is die maatskappy wat onder die beste maatskappye tel. Dis die maatskappye wat goeie byvoordele bied. Dis die maatskappye wat omgewings skep waar werknemers kan verbind en floreer.
BRON: http://blogs.lse.ac.uk/businessreview/2016/11/02/flourishing-at-work-is-all-about-relationships/