Hoe voorkom en hanteer jy konflik oor die feestyd as die hele familie bymekaar is? wou Shanda Luyt weet
Daar is ’n goeie rede hoekom soveel families elke feestyd landwyd rondom Kersbome saamtrek: Dit bring die belofte van gemeensaamheid, warmte en geselligheid, herroep ou herinneringe en skep nuwes. Dit maak van hierdie tyd ’n spesiale saamweestyd. Ongelukkig is die roos nie sonder dorings nie: Konflik is gereeld ’n ongenooide kuiergas by familiesaamtrekke.
Die feestydprentjie wat die media vir ons skilder, is dié van ’n gelukkige, ontspanne familietyd, waar familielede mekaar koester en elke oomblik geniet.
Dit is ’n onrealistiese beeld en selfs families wat goed klaarkom, sukkel om aan hierdie “verwagting” te voldoen, sê Lineé van der Meer, ’n kliniese sielkundige van Grahamstad. “Die perfekte feestyd bestaan nie en daar is geen manier hoe jy elke element van die vakansie kan beheer om verseker te wees niks gaan verkeerd loop nie. Mense gaan met mekaar geïrriteerd raak of iemand gaan ’n glas wyn op jou nuwe bank omgooi. Jy kan nie dié dinge beheer nie, maar jy kan wel seker maak jou verwagtinge is realisties. Só voorkom jy dat jy teleurgesteld en ontnugter word.”
Dis eintlik net logies dat daar konflik sal wees as families oor die feestyd saamtrek, sê sy. “Families bestaan uit mense van verskillende ouderdomme, met verskillende persoonlikhede, behoeftes en persepsies. Wanneer almal ’n week of twee dieselfde ruimte deel, kan ’n mens byna seker wees dat daar botsings gaan wees.”
Elke gesin het ’n eiesoortige dinamika en soort harmonie wat ontwikkel as kinders saam grootword en saamleef. Wanneer die kinders egter ouer word, die huis verlaat en hul eie gesinne het, kan hulle van die oorspronklike gesin se reëls, waardes en oortuigings afwyk, wat natuurlik ’n resep vir konflik kan wees as al die gesinslede en hul gades en kinders bymekaarkom, sê dr Rosa Bredenkamp, voorligtingsielkundige van Kenridge.
“Volwasse kinders se oortuigings kan met tyd verander van dit wat hulle in die huis geleer het. Hierdie verskille kan tot warm debatte en selfs onderlinge konflik aanleiding gee. Ek dink hier veral aan mense se oortuigings rondom politiek, die kerk en samelewing. Verskille hieroor kan ontaard as daar nie wedersydse respek vir mekaar se sienings is nie,” sê dr Rosa.
Sy sê konflik kan ook ontstaan as gevolg van neefs en niggies wat onderling baklei, ouers wat verskil oor hoe om dit te hanteer, verskille oor watter familieaktiwiteite om te doen, of bloot net omdat sekere familielede nie met ander oor die weg kom nie.
LEES OOK: Hoe hanteer jy konflik?
Lineé sê wat die situasie vererger, is dat familielede dikwels ver van mekaar woon en mekaar nie gereeld sien nie. Hulle voel dan hulle moet daarvoor vergoed en probeer soveel moontlik tyd saam deurbring, wat die balans tussen sosiaal wees en alleentyd omvergooi en tot stres en konflik kan lei.
Ou familiedinamika kan ook olie op die konflikvuur wees. “Wanneer volwasse kinders met hul ouers en sibbe herenig, gebeur dit dikwels dat die dinamika en patrone wat teenwoordig was voor die kinders die huis verlaat het, hulself weer uitspeel,” verduidelik Lineé. “Jy het dalk altyd gevoel jou ouers verkies jou suster bo jou, maar het oor die jare daarmee vrede gemaak en kom goed met haar oor die weg as julle alleen is, maar die oomblik as julle saam met jul ouers is, is daar merkbaar spanning tussen julle en voel jy weer soos ’n kind.”
Dr Rosa stem saam: “Wanneer families saamkom, val gesinslede dikwels terug op die rolle en funksies wat hulle in die oorspronklike gesin gehad het, byvoorbeeld Pa wat vir almal wil voorskryf hoe om dinge te doen, of ’n ouer broer of suster wat vir almal moet regstaan terwyl die jonger sibbe lekker agteroorsit en nie ’n vinger verroer nie.”
Daar is ook dikwels onverwerkte sake of gevoelens tussen familielede wat nog krap omdat dit nooit behoorlik getakel en deurgewerk is nie, sê dr Rosa.
Volwasse kinders kan ook dikwels verskeurde lojaliteit tussen hul “nuwe” gesin en “oorspronklike” gesin ervaar, sê Lineé.
Subtiele en dikwels onbewuste mededinging tussen byvoorbeeld die man se ma en sy vrou kan tot spanning lei en konflik veroorsaak – selfs huwelikskonflik.
Sit daarby dat die feestyd ’n besige en potensieel stresvolle tyd vir die meeste van ons is, en dit is dikwels ’n resep vir konflik, sê Lineé. “Daar is die druk van Kersinkopies, finansiële druk en sosiale verpligtinge. Dis ook die tyd van die jaar wanneer jy gewoonlik fisiek en emosioneel uitgeput is ná ’n lang jaar van werk. Hierdie kombinasie van stres en uitputting veroorsaak dat jy makliker geïrriteerd raak, humeure vinniger opvlam en dat dit oor die algemeen net moeiliker is om alledaagse uitdagings te hanteer.”
Praktiese vrede
Hou balans tussen saamtyd en alleentyd
’n Klomp mense saam in een huis verminder private ruimte of tyd – iets wat elke mens nodig het – en vergroot die risiko vir konflik. “Maak dit ’n prioriteit om elke dag ’n tydjie af te knyp waar jy alleen kan wees deur byvoorbeeld te gaan stap,” sê Lineé. Dit is ook baie belangrik dat elke gesin soms afsonderlik van die ander gesinne hul ding doen, sê dr Rosa en Lineé. Julle kan ook saam iets lekkers doen sodat julle bande só versterk.
Kommunikeer duidelik
Goeie kommunikasie kan konflik in die kiem smoor, sê Lineé. “Dis baie keer moeilik om ’n probleem te takel omdat ons nie drama wil veroorsaak nie, maar deur stil te bly, kan frustrasie opbou en tot ’n uitbarsting lei.”
Verdeel take regverdig
Wanneer families saam vakansie hou, is dit ’n goeie idee dat hulle take en verantwoordelikhede deel, sê dr Rosa, anders kan iemand dalk wrewelrig voel oor die werksverdeling. Gee byvoorbeeld elke gesin ’n kosmaak- en opruimbeurt. “Span ook die ouer kinders in – dis ’n goeie manier om hulle verantwoordelikheid te leer.”
Stadig met die voggies
Die gebruik van alkohol is vir baie sinoniem met die feestyd, maar drank veroorsaak dat mense nie brieke het nie, sê dr Rosa en Lineé. “Dit is dan wanneer ondeurdagte dinge gesê of gedoen word wat ander die harnas injaag.” Dr Rosa beveel aan dat as iemand alkohol misbruik, daar met hom daaroor gepraat word as hy nugter is.
Stel perke
Feestydstres is dikwels die gevolg van ’n onvermoë om “nee” te sê en grense te stel, sê Lineé. “Dit laat jou buite beheer voel en dat jou behoeftes nie in ag geneem word nie.” Dr Rosa beaam dit: “Jy wil dalk ’n middagslapie neem en die ander nie. Moenie dat dit jou keer om te doen wat vir jou werk nie. Solank jy net jou behoeftes aan die res kommunikeer en hulle jou behoeftes respekteer.”
Koester realistiese verwagtinge
“Dis nie realisties om te hoop dat jou oorkritiese suster of oom wat gewoonlik te diep in die bottel kyk, skielik gaan verander nie. Weet wat om te verwag, maar probeer op die positiewe aspekte van jou familielede fokus,” sê Lineé.
Behou ’n sin vir humor
Wanneer dinge nie volgens plan verloop nie, probeer om dit nie te ernstig op te neem nie en liewer die humor in die situasie raak te sien, sê Lineé.
Bespreek vooraf die geldsake
Soms werk ’n gemeenskaplike beursie goed sodat sommige gesinne nie voel hulle spandeer meer as ander nie, sê dr Rosa. “Julle kan vooraf besluit hoeveel geld elke gesin gee. As die beursie leeg is, word daar weer saam besluit oor hoeveel elke gesin moet bydra.”
Die pad na vrede
Konflik tussen familie behoort nie net as iets negatiefs gesien te word nie, beklemtoon dr Rosa. “As ons insien dat konflik ’n poging kan wees om onverwerkte emosies uit die kindertyd op te los, kan konflik ’n konstruktiewe, opbouende karakter aanneem.
Daar is dikwels goeie ontknopings van gebeure uit die verlede omdat die volwassenes nou beter insig en begrip het as toe hulle kinders was en nog nie volle emosionele rypheid bereik het nie.”
As nuwe insigte ontwikkel, sê dr Rosa, kan die gesinslid en familie van die verlede se impak op die hede vrygemaak word en kan nuwe, gesonder verhoudings ontwikkel. “Dit is waarlik ’n geleentheid vir gesinslede om persoonlik te groei en daarmee saam gesinsgroei te ervaar.”
As daar konflik is, probeer dit net met die betrokke persoon hanteer, raai sy aan. “Hanteer die konflik apart, weg van ander, anders kan hulle kant kies en als vererger. Kies die tyd vir ’n oop gesprek versigtig – verkieslik wanneer daar betreklike vrede heers. Skep ’n veilige omgewing waarin die konflik hanteer kan word. Probeer mekaar uitluister en verstaan waar julle mekaar in die verlede misverstaan of onaanvaarbaar opgetree het. Gee geleentheid vir verskoning en begin die proses van vergifnis.”
Konflikhantering kan slegs sinvol geskied met goeie kommunikasievaardighede, sê dr Rosa. Dit help dat die konflik nie uit proporsie eskaleer nie.
As die konflik tussen ander partye is, moenie betrokke raak nie, sê Lineé. “As jy met iemand vassit, moet ook nie ander familielede betrek nie – dit sal bloot die konflik laat uitkring.”
As humeure opvlam en jy jou in ’n geskil bevind wat al heftiger word, verskoon jouself, sê Lineé. “Laat weet die ander persoon dat jy graag die ding wil uitpraat, maar dat julle meer uitgerig sal kry as julle albei kalm is. Kry ’n tyd wanneer julle alleen en rustig die kwessie kan bespreek en oplos.” Plaas ’n wag voor jou mond, sê Lineé.
“Wat gesê is, kan nie teruggeneem word nie. As jy beheer verloor, vat ’n blaaskans.”