Jul sekslewe is glad nie meer wat dit was nie. Wat kan die gevolg wees? Stres, swak slaap, of albei?
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
As jou kop in die aand die kussing tref, is dit verby en as daar ‘n handjie na jou toe uitgesteek word, snork jy sommer harder en maak asof jy sielsalig slaap. Te moeg vir seks?
Jy is beslis nie alleen nie, sê dr Laurie Mintz, ‘n sielkundedosent aan die Universiteit van Florida in Amerika en skrywer van verskeie boeke.
Volgens Laurie het soveel soos 45% van vroue en 31% van mans in ‘n opname gesê daar is probleme met hul sekslewe.
Prof Laurie sê in baie gevalle is slaap die grootste probleem en dis nie waar dit eindig nie. “‘n Tekort aan slaap kan tot seksuele probleme lei en ‘n tekort aan seks kan ook weer tot slaapprobleme lei. ‘n Goeie nagrus kan tot ‘n verhoogde belangstelling in seks lei en orgasmiese seks kan tot selfs ‘n beter nagrus lei,” sê sy.
LEES OOK: Seks en roosmaryn kan jou BAIE oud laat word
“Ek het al spesifiek ‘n seksboek vir vroue geskryf omdat hulle dikwels deur slaapprobleme en ‘n lae seksdrang geraak word. Vroue is meer as mans geneig om slaapprobleme te hê en die algemeenste seksklagte onder vroue is ‘n lae seksdrang. Te moeg vir seks is die hoofrede vir die verlies van vroue se seksdrang.
‘n Goeie nagrus kan wel jou seksdrang laat toeneem. ‘n Onlangse studie toon hoe langer vroue slaap, hoe meer sal hulle die volgende dag in seks belangstel. Slegs een uur se ekstra slaap kan tot ‘n 14% toename in seks die volgende dag lei.”
Nog ‘n onlangse studie toon dat onder menopousale vroue, slaapprobleme direk met seksuele probleme verbind word.
Talle ma’s kla oor swak slaappatrone en min seks en veral ma’s van jong babas het dikwels bloot nie die krag of energie daarvoor nie.
Vroue wat getroud is, voltyds werk en skoolgaande kinders het, is meer geneig om insomnia as ‘n probleem te noem, vertel Laurie.
Howel pa’s ook stres ervaar, is daar bewyse dat stres en slapelose nagte meer vroue as mans se seksdrang affekteer. Baie hiervan kan aan hormone toegeskryf word. Min slaap en stres kan ‘n rol speel in die vrystelling van kortisol en kortisol laat testosteroon afneem.
Die seksghoeroe Ian Kerner beaam Laurie se bevindinge en noem ook dat te min seks en te veel stres tot slaaploosheid en irritasie lei terwyl ‘n mens glo juis heerlik ná ‘n orgasme slaap.
Wenke
- As daar slaapkamerprobleme is, ondersoek jul slaappatrone.
- Help mekaar – as jou maat doodmoeg in die bed neerval, kyk hoe jy die aand makliker kan maak deur in die huis te help.
- Loer na jul aandroetine en kyk na moontlike aanpassings.
- Seks hoef nie net in die aand plaas te vind nie, wees kreatief.
- Moenie tegnologie voor slaaptyd gebruik nie, fokus liewer op jou maat.
BRON: www.theconversation.com