Konflik is deel van die lewe, maak nie saak hoe jy dit vermy nie. Hoe moet mens dit hanteer? Sielkundige Ronel du Toit gee raad oor hoe om te kommunikeer tydens konflik
Of dit nou konflik met jou knaende baas, jou nukkerige tiener of jou man is wat nie jou standpunt wil insien nie, konflik is nooit lekker nie. Dit is egter deel van verhoudings en jou houding kan dinge óf baie beter laat word óf aansienlik versleg. Hier is ons wenke vir hoe om te kommunikeer tydens konflik
Verhoudings is lewensbelangrik, sê Ronel du Toit in haar jongste boek, Verhoudings onder druk – 13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk.
Ons kyk hier na haar wenke om te kommunikeer tydens konflik:
1. Stel die probleem baie duidelik
Die ander persoon moet die probleem maklik verstaan en selfs deernis met jou situasie kan ontwikkel. Sê wat jy wil bereik: “Ek wil graag hê dat ons hieroor praat en ek sê dit omdat dit my op hierdie manier raak.” Plaas die probleem binne die groter konteks sodat dit duidelik verstaan word.
2. Praat oor een probleem op ‘n keer en handel dit af
Moenie ou koeie uit die sloot grawe nie. Mens kan maklik ‘n probleem so kompleks maak dat jy in die web daarvan verstrengel raak.
3. Behandel jou gespreksgenoot met respek en agting.
Dink twee keer voor jy met ‘n antwoord lostrek. Vra jouself af: Wat gaan die impak van my woorde op my gespreksmaat wees? Onthou, jou bedoeling kan hemelsbreed verskil van die impak wat jou woorde op jou gespreksgenoot het.
4. Moenie mekaar in die rede val nie.
Dissiplineer jouself om eers volledig te luister en daarna jou kant van die saak te stel.
5. Bly gefokus op die argument
Moenie in ‘n magspel vasgevang raak nie. Laat toe dat jou verhoudingsmaat jou beïnvloed. Moenie net daarop fokus om die argument te wen nie.
6. Kyk na jou eie aandeel aan die argument
Watter rol het jy in die konflik gespeel ?
7. Moenie blameer, verwyt en kritiseer nie
Hierdie taktieke lei klokslag tot teenaanvalle of selfverdedigende gedrag en is teenproduktief in gespreksvoering.
LEES OOK: Kommunikasiegapings tussen ouers en hul tienerkinders
8. Waak daarteen om vuur met vuur te beveg
Dit loop gewoonlik op oorlog uit. Tree selfhandhawend op deur vir jou gespreksgenoot terugvoering te gee oor hoe sy of haar gedrag jou beïnvloed. “As jy so aggressief met my praat, raak ek so gespanne dat ek nie helder kan dink nie.”
9. Hou jou stemtoon en liggaamshouding dop
Hierdie aspekte sê dikwels meer as jou woorde. Wees versigtig vir bitsigheid.
10. Beteuel jou voorskriftelike houding
Bly weg van onaanvegbare waarhede, sarkasme, ondervraging, kritiek, blamering en voorskrifte.
11. Betoon empatie
Luister geduldig en akkuraat na die beskuldigings. Kommunikeer dit so ‘n manier terug dat hy of sy voel jy begryp die situasie. Luister eers volledig totdat hy klaar gepraat het voor jy jou kant van die saak aanbied.
12. Hou op raai
Moenie dink jy kan gedagtes lees of raai wat in ander mense se koppe aangaan nie. Jy kan verkeerd wees. Toets jou afleidings in ‘n oop gesprek. Konsentreer op die inhoud wat gekommunikeer word eerder as op jou vermoedens oor wat gesê word.
Ronel du Toit se boek Verhoudings onder druk – 13 beginsels wat maak dat verhoudings slaag of misluk is by toonaangewende boekwinkels beskikbaar