In vandeesweek se uitgawe van Vrouekeur word gevra: “Wat doen ek as ek wil kinders hê, maar my man nie?” Of dalk is jý die een wat nie ’n kind wil hê nie …
“Ouerskap kan ’n geweldig betekenisvolle belewenis vir mans en vroue wees,” sê Erika Nell, ‘n kliniese sielkundige. “Die verhouding tussen ouer en kind is besonder uniek. Jy ‘reis’ deur elke ontwikkelingsfase saam met jou kind, vandat sy haar eerste woord sê en jy vir die eerste keer ’n pleister op haar knie plak, tot haar eerste liefdesteleurstelling en later werksdilemmas.
LEES OOK: 10 maniere om gelukkige kinders groot te maak
“Wanneer vroue ma’s en mans pa’s word, ontdek hulle dikwels ’n liefde in hul hart wat hul nie geweet het bestaan nie; en ’n onwrikbare lojaliteit en beskermingsdrang. Om te sien hoe jou vrou of man jou kind versorg en om te leer om saam te werk en die dankbaarheid om in soms uitmergelende toestande op mekaar te kan staatmaak, laat dikwels ’n man en vrou se liefde vir mekaar verdiep.
“Maar saam met die opwinding en verwondering is ouerskap vir ’n ouerpaar wat vir kinders gereed is, soms ook ontnugterend. Julle kry min slaap en moet baie opofferinge te maak. Daar is gedeeltes van jouself en jul verhouding wat jy dalk sal mis. Daar kom dae dat ouers twyfel of hulle die regte ding gedoen het deur ’n kind te hê en besef dat liefde vir hul kind nie altyd spontaan is nie, maar dat hul kind ook iemand is wat verken moet word en dat daar aan jul verhouding met haar gebou moet word. Daarom moet voornemende ouers goed besin voordat hulle besluit om hul gesin uit te brei.”