Ja, julle kan fisiek aangetrokke tot mekaar voel, maar wat van emosionele aangetrokkenheid? Lees hier meer
Die verhoudingskenner en skrywer Ellie Lisitsa sê dit is wanneer jy tot iemand se hart, verstand en drome aangetrokke voel.
“Dit beteken jy waardeer jou maat en dit waarvoor hy of sy staan. Hoewel jy seksueel tot jou maat aangetrokke kan voel, is ‘n dieper emosionele aantrekking baie belangrik vir volhoubare geluk.”
Daar is vier baie bestanddele vir emosionele aantrekking, sê Ellie en dit is vriendskap, kommunikasie, verbintenis en behoeftes.
1. VRIENDSKAP
‘n Sterk vriendskap is die grondslag vir ‘n standhoudende verhouding. As die aanvanklike romanse en fisieke aantrekking ‘n bietjie taan, dan sal hierdie band help om jul verhouding te gom. Vriendskap skep ‘n sterk band en die wete dat jou vriend altyd daar vir jou sal wees.
2. KOMMUNIKASIE
Gereelde kommunikasie kan help om daai klein krapperigheidjies te hanteer. Dis belangrik om met jou maat te gesels oor die dinge wat jou pla. Dit help om die band te verstewig en laat emosionele aantrekking toeneem. Gesels daagliks met jou maat oor wat in jou lewe aangaan.
3. VERBINTENIS
As daar ‘n sterk verbintenis tussen paartjies is, sal geliefdes voel asof hulle raakgesien, gehoor en liefgehê word. As dit nie in plek is nie, lei dit tot emosionele onttrekking en soms selfs ander verhoudings.
4. BEHOEFTES
Die verhoudingsafrigter Ron Capocelli sê dis belangrik om jou geliefde se emosionele seine te lees en aan daardie behoeftes te voldoen. Versterk die emosionele band met fisieke aanraking, woorde, gehaltetyd, takies en klein blykies van waardering. Gary D Chapman verwys ook hierna in sy boek Die vyf liefdestale.