Daar is baie dinge wat toksies in verhoudings kan wees, maar hierdie ses jakkalsies kan dodelik wees
Zerelda Esterhuizen
Mense in ‘n verhouding raak net te gewoond aan mekaar en verloor naderhand hul waardering vir mekaar, sê die sielkundige dr ST Potgieter.
“Ons moet daarteen waak om ons maat as vanselfsprekend te aanvaar. Jy moet doelbewus planne maak en moeite met jou maat doen. Jy moet voortdurend met liefde, aandag, toewyding en respek optree en hom of haar spesiaal laat voel.”
Die webwerf Yourtango noem die volgende as klein jakkalsies wat die wingerd kan verniel:
1. Huiswerk
Kyk, as daar nou een ding is wat die huweliksbootjie erg kan skud, is dit huiswerk. Want wie doen wat? Ongelukkig is nie alle mans en vroue ewe fluks nie en as die skottelgoed begin ophoop en die wasgoed immer op die mandjie lê in plaas van binne, kan daar rusies ontstaan.
2. Oorafhanklikheid
Dis heerlik om ‘n maat te hê om jou te ondersteun en in jou span te wees, maar as iemand net te veel op jou staatmaak, kan dit die verhouding versuur.
3. Onversorgdheid
Ja, ons almal weet die innerlike is net so belangrik soos die uiterlike, maar as jy nie na jouself kyk nie, kan dinge lelik verkeerd loop. Wees lief vir jouself en doen dinge vir jouself.
4. G’n ruimte
Dis belangrik dat paartjies se hele lewe nie om die ander een moet draai nie. Jy moet ook jou eie vriende en stokperdjies hê. Pasop net, sê ST: “Gee mekaar die ruimte om sy eie ding te doen, maar moenie dit oordoen nie. Moenie totaal ongebalanseerd raak nie. Maak genoeg tyd vir jou maat.”
5. As al die vonke weg is
As jul verhouding vervelig voel, dan is dit dalk tyd om jou maat te verras. As die verhouding dooierig voel, is daar talle dinge wat jy en jou maat kan doen om die vonke weer te laat spat. ST sê groot verhoudingsprobleme ontstaan as seks agterweë bly. Gaan sien ? terapeut as daar probleme is.
6. As julle mekaar afbreek
‘n Mens raak aan rusies in ‘n verhouding gewoond en jy weet wat jou maat vies maak, en omgekeerd. Maar dis ‘n kuns om reg te baklei. Kies jou gevegte en moenie goed sê wat jy gaan berou nie.
BRONNE: www.yourtango.com, dr ST Potgieter, 021 949 5007, [email protected] of www.pitkos.co.za