Is jy vasgevang in ’n toksiese verhouding wat jou op die vlug wil laat slaan? Laat gaan met dié wenke
Dis dalk ‘n “vriendin” wat jou pal kritiseer, jou “geliefde” in wie se oë jy niks reg kan doen nie of ‘n kollega wat jou om elke hoek en draai beskinder … Of dalk is dit nie eens ‘n mens nie, maar kos, sosiale media of iets anders in jou lewe. Jy weet dis sleg vir jou, maar jy kan nie laat los nie.
Jy sal weet watter verhoudings in jou lewe sleg vir jou menswees en gesondheid is. Hier is wenke vir ‘n kopskuif en ‘n detoks.
1. Besef dis ’n probleem
Kyk mooi na die verhouding en lys die negatiewe en positiewe punte. Laat hierdie verhouding jou goed of sleg voel? Wie of wat is die probleem?
2. Besluit wat jy gaan doen
Besluit of jy iets aan die verhouding kan doen. Is dit iets wat jy kan regmaak? Kan jy met jou werkgewer oor jou kollega gesels? Kan jy met jou vriendin ‘n ope gesprek hê oor dit wat jou pla? Kan jy en jou geliefde vir terapie gaan? As jy bande moet breek, hoe kan jy dit doen?
LEES OOK: 6 wenke om jou verhouding te beskerm
3. Kry iets wat jou lus vir die lewe maak
Dis nou die tyd om goed vir jouself te wees. Kry iets wat jou aandag ‘n bietjie aflei soos ‘n nuwe stokperdjie of dalk iets wat jy nog altyd wou doen? Doen wat jy kan om jou gemoed te lig.
4. Onttrek
As jy in ‘n afbrekende verhouding is, is dit beter om jouself daaraan te onttrek en bande te verbreek. Besef wat jou waarde is en besef dat jy dit werd is om positiewe verhoudings in jou lewe te hê. As jy ‘n ongesonde verhouding met kos of sosiale media het, probeer stapsgewys daaraan werk. Kyk na die wortel van die probleem.
5. Gee jouself tyd om te treur
Verlies is nie maklik nie en jy moet jouself kans gee om te treur oor iets of iemand wat jy verloor het. Dis nie gesond om die pyn op te krop nie. Kry hulp indien nodig en gesels met iemand wat jy vertrou oor jou gevoelens.
6. Baklei vir jouself
Keer dat jy in toksiese patrone terugval en let op na die snellers. Kyk na balans in jou lewe en veg vir dit wat jou toekom.
Wees goed vir jouself.
BRON: www.goalcast.com