Egskeidings of verhoudings wat faal is niks ongewoons in vandag se moderne lewe nie, maar is daar iets wat jy kan doen om seker te maak joune bly op koers?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Foto www.freepik.com
ʼn Mens kan maklik jou maat en jou verhouding afskeep sonder om dit te besef, sê Nadia* (39).
“Ek en my man is vanjaar al 15 jaar getroud, maar ons moes ʼn paar harde klippe kou tot waar ons vandag is. Dit was eers toe ons ʼn verhoudingsberader gaan sien het, wat ek besef het dat ek hom afgeskeep het ter wille van die kinders se behoeftes en my bedrywige lewe en hy het weer besef dat hy weer niks bygedra het tot die verhouding deur altyd op die randjie te staan nie. Ons het geleer om te kommunikeer, om saam dinge te doen, maar ook om mekaar ruimte te gee en bowenal net daar te wees vir mekaar.”
Voel dit soms of jy en jou geliefde ook van mekaar af wegdryf? Dit is nooit te laat om jul verhouding weer woema te gee nie.
Hier is ʼn paar verhoudingswenke wat werk:
Kommunikeer sonder om te blameer
As julle oor iets verskil, moenie net beskuldig en woorde soos “altyd” of “nooit” gebruik nie. Praat oor hoe die situasie jou laat voel en probeer saam na oplossings soek. Jou maat kan nie altyd raai hoe jy oor iets voel nie. Deel jou gevoelens.
Gun mekaar ruimte
ʼn Mens verloor nie skielik jou belangstellings as jy in ʼn vaste verhouding is nie. Gun jou geliefde tyd om steeds sy of haar stokperdjies te beoefen.
Maak tyd vir mekaar
ʼn Mens moet nou en dan alleen saam iets doen. Gaan op afspraakaande al is dit moeilik met die kinders. Dalk sal ʼn gesteelde middagete beter in jul skedule pas, maar hoe dit ook al sy, maak tyd om te gesels. Kikker jul intieme lewe op en doen iets spesiaals vir mekaar.
Wys jul waardering
Het jy al van die vyf liefdestale gehoor? Vind uit wat jou maat sʼn is, en gebruik dit tot voordeel van jul huwelik. Sê dankie as jou maat iets vir jou doen al is dit iets doodgewoons soos ʼn koppie koffie wat hy vir jou maak. Wys jou waardering vir wat jou maat vir jou doen en beteken.
Sien die klein dingetjies oor
Dink mooi voor jy ʼn argument begin, is dit regtig nodig om ʼn ophef oor iets kleins te begin? Hy het dalk vergeet om die skottelgoed te was of het gemors toe hy kos gemaak het of het sy dalk vergeet om die water en ligte te betaal of jou ma te bel? Soms is dit net die moeite werd om ʼn berg van ʼn molshoop te maak nie.
Kry ʼn uitlaatklep
Ons almal het nodig om te ontlont en ʼn bietjie van die frustrasies ontslae te raak. Gesels met ʼn vriendin as die lewe te veel raak, luister na ʼn inspirerende praatjie en maak seker jy kry tyd vir jou eie belangstellings. Jy moet aandag aan jouself ook gee.
BRONNE: www.counselingrecovery.com, www.heartmath.com, www.familylife.com