Ons het dit al baie gehoor, maar kan dit wees dat die posisie in die gesin jou en jou menswees kan beïnvloed?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ek is ‘n middelkind en volgens die geboorterangteorie is ek geneig om onredelike eise aan myself te stel, maar ek kan ook lekker selfsugtig wees.
Ek weet nie so mooi nie. Ja, ek het nogal hoë standaarde waaraan ek myself meet en ek verpes ‘n fout, maar tree ek selfsugtig op? Dalk, dalk nie.
Hoe dit ook al sy, verskeie studies is al oor geboorte-orde gedoen.
Hierdie bekende teorie se wortels dateer terug na die 1920’s toe die psigiater Alfred Adler (ene Sigmund Freud se vriend) gesê het dat jou posisie in die gesin aan spesifieke persoonlikheidseienskappe gekoppel kan word.
Oudste kinders Volgens Adler is die oudste kinders geneig om konserwatiewer, magsgeoriënteerd en leiers te wees. Aangesien hulle dikwels vir jonger sibbe verantwoordelik is, is hulle meer geneig om self ouers te word, versorgend op te tree en om inisiatief te neem. Oudste kinders is glo versigtig en verantwoordelik. Hulle probeer risiko’s sover as moontlik minimaliseer of neutraliseer en hou by die reëls.
Middelste kinders Die middelkinders sukkel dikwels om die ouer broer of suster “verby te steek”. Hulle is geneig om ambisieus te wees, maar kan selfsugtig optree en hulle het ook gewoonlik onredelike hoë standaarde vir hulself.
Jongste kinders Die jongste kinders kry gewoonlik baie aandag en daarom mag hulle voel asof hulle minder ervare is en meer afhanklik is. Hulle is egter gewoonlik hoogs gemotiveerd omdat hulle hul ouer sibbe wil uitstof. Hulle bereik dikwels groot sukses. Jongste kinders is kreatief, uitdagend, ongewoon en waaghalsig.
Enigste kinders Hierdie kinders kan dikwels versorging en beskerming van ander mense verwag omdat hulle gewoond daaraan is om als in die gesin te kry. Hulle sukkel soms om met hul portuurgroep oor die weg te kom omdat hulle aan volwasse geselskap gewoond is. Hulle is egter dikwels perfeksionisties en wil hul doelwitte bereik.
Kan dit IK beïnvloed?
Navorsers aan die Universiteite van Leipzig en Johannes Gutenberg in Duitsland het meer as 20 000 mense bestudeer. Hulle het gevind dat ouer kinders gewoonlik beter in intelligensietoetse vaar.
Daar is egter gevind dat geboortevolgorde geen effek op emosionele stabiliteit en verbeelding het nie.
En persoonlikheid?
Nog ‘n studie in Amerika toon dat geboortevolgorde jou persoonlikheid beïnvloed. Hulle het gevind dat eersgeborenes gewoonlik meer dominant en eerlik, maar ook minder sosiaal is en ‘n laer weerstand teen stres het. Middelkinders is glo meer konsensieus en jongste kinders weer meer oop en sosiaal. Enigste kinders is dikwels senuwee-agtig, maar ook uitgaande.
Hoe kan ek my kind help?
Oudste kinders Moenie hierdie kinders met hul sibbe se probleme oorlaai nie. Hulle is ook nog kind en moet ‘n kinderlewe geniet.
Enigste kinders Reël genoeg speelafsprake met maats sodat jou kind uit die volwassenes se geselskap kom. Moet ook nie te ernstige kwessies met jou kind bespreek nie.
Middelkinders Moenie van hierdie kinders verwag om in Ousus of Ouboet se voetspore te volg nie en moet hulle ook nie met die oudstes vergelyk nie.
Jongste kinders Pasop vir te veel bederf en moenie toelaat dat die jongste altyd “wen” in sibbestruwelinge nie. Luister na elkeen se kant van die saak. Dis ook belangrik dat die jongste sekere verantwoordelikhede in die huis moet kry.
Bron: www.brightside.me