Pendelverhoudings is vandag niks vreems mie, maar kan dit werk of kan dit ‘n huwelik knak?
Dit gebeur gereeld dat ’n broodwinner of mede-broodwinner in ’n ander of stad, of soms in ’n ander land, moet werk en woon as dié waarin die gesin gesetel is.
Die Engelse uitdrukking is “Absence makes the heart grow fonder”; die Afrikaanse spreekwoord is “Uit die oog, uit die hart” . . .
“Beide spreekwoorde kan van toepassing wees,” sê Liesl Saayman, lewensafrigter en mentor. “Wanneer julle na mekaar verlang, waardeer julle mekaar meer en beleef julle die tye wanneer julle wel saam is, as kosbaar en is daar minder argumente oor onbenullighede. ’n Mens waardeer ook die ander persoon, wanneer hulle wel daar is, se hulp en bydrae baie meer.
“Maar indien ’n huweliksmaat gereeld vir lang tye weg is, kan die ander lewensmaat so gefokus raak op sy of haar en roetine en manier van doen, dat sy vergeet om die persoon wat nie teenwoordig is nie in ag te neem in haar besluite.”
Floris Knouwds, huweliksberader, sê:
“Wanneer dit by pendelhuwelike kom, is die druk om aan ander dinge as die egpaar se verhouding aandag te gee soveel groter. Dit sal dus meer oortuiging, moeite en inspanning vra om in die kort tye wat beskikbaar is, tyd vir mekaar te skep en dit sal van groter belang wees om dit reg te kry.
“Kinders in pendelhuwelike sukkel dikwels om die afwesigheid van ’n ouer te verwerk,” sê Floris verder.” Die onvermoë om hulle eie binnewêreld te verstaan en te hanteer, lei dikwels tot ’n sekondêre reaksie, naamlik woede teenoor die afwesige ouer. Hulle manier om daaraan uitdrukking te gee, is om hulle aan die ‘afwesige’ ouer te onttrek en selfs aggressief teenoor hom of haar op te tree wanneer hy of sy tuis is. Dit kan lei tot vereensaming, neerslagtigheid en vervreemding tussen ouer en kind.”