Jou tiener voel soms soos ‘n vreemdeling. Waar is die oulike kind heen wat graag op jou skoot opgekrul het? Ons gee 20 wenke vir ‘n hegter band
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
“As ek my meisiekind by die skool oplaai, kan ek sommer sien hoe ons aand gaan lyk. As dit ‘n stuurs gesig is, gaan die vonke spat. As daar so ‘n effense glimlag is, gaan dit ‘n goeie aand wees. Haar buie is besig om my gek te maak en voor ek my kom kry, ontplof ek. Sy is net plein ‘opstroppelis’,” kla Anne*, ma van ‘n 16-jarige dogter.
Menige ouer van tieners kla dat dit voel asof die eens hegte band tussen hulle verdwyn. Asof hul tiener van hulle af wegdryf. Hoe verstewig jy hierdie band?
Hier is 20 wenke:
1 LUISTER
As jou tiener met jou kommunikeer, gee aandag en probeer om ook tussen die lyne te lees sodat jy weet wat in sy of haar lewe aangaan.
2 STEL BELANG
Vra jou kind hoe sy of haar dag of die rugby-oefening was? Wys jy stel belang in jou tiener se lewe en moedig antwoorde aan.
3 WEES ‘N KLANKBORD
Luister na jou tiener se probleme sonder om die situasie self te probeer beredder. Gesels met jou tiener oor moontlike oplossings vir haar probleme.
4 GEE KEUSES
Onthou dat jou kind sy of haar eie smaak het en die boeke wat hulle lees, die flieks wat hulle kyk of musiek waarna hulle luister, vorm dikwels ‘n groot deel in hul ontluikende identiteit. Laat jou kind soms die radiostasie in die kar of die fliek vir ‘n fliekaand kies.
5 KOOP BOEKE
Die belangrikheid van lees kan nie genoeg benadruk word nie. Gesels oor boeke en koop boeke in jou kind in sy of haar belangstellingsveld.
6 LEER JOU KIND SE VRIENDE KEN
Wees die tipe ouer met ‘n huis waar tieners wil kuier. Dit beteken nie dat jy jou kind se maats se beste vriendin moet word nie. Jy bly die ouer. Dit kan egter baie vir jou en jou tiener se verhouding beteken as jul huis ‘n gemaklike huis is waar vriende welkom voel.
7 NOOI ‘N MAAT SAAM
Tieners verkies nie altyd hul ouers se geselskap nie en dit kan baie vir jou kind beteken om soms ‘n maat saam te nooi as julle iewers heen gaan.
8 OEFEN SAAM
As jou kind oefen, oefen saam. Doen saam ‘n Parkrun of gaan speel tennis of gooi ‘n bal. Dit gee julle kans om net saam te wees en ‘n bietjie te gesels.
9 SKEP RITUELE
Is die Sondagaandfliek ‘n ritueel in jul huis? Kyk dit byvoorbeeld saam as gesin, spring die springmielies en ontspan saam voor die week begin.
10 DOEN TAKIES SAAM
Kyk, as jy nou ‘n tiener vinnig wil sien verdwyn, noem die woord “skottelgoed”. Doen dit eerder saam en gesels terwyl julle die takie verrig.
11 WEES BETROKKE BY DIE SKOOL
Naskoolaktiwiteite is ‘n groot deel van ‘n kind se lewe hoewel dit nie altyd moontlik is vir ouers om dit by te woon nie. Maak tyd om ‘n wedstryd by te woon en belangstelling te toon. Onthou net dat jy daar is om hulle te help om talente te ontwikkel – nie om hulle te kritiseer nie. Moenie deur jou kind leef nie!
12 KYK NA HUISWERK
Huiswerk is nie ‘n grap op hoërskool nie. Onthou jy nog hoe aaklig dit was? Vra of jy kan raad gee, werk kan oorgaan of vat ‘n sappie en happie vir jou kind.
13 DRUK JOU KIND
Jou tiener maak dalk of hy nie van drukkies hou nie, maar elkeen het aandag en liefde nodig. Gee jou tiener elke dag ‘n drukkie en sê: “Ek’s lief vir jou.”
14 LAG SAAM
Stuur ‘n grappie aan, doen iets prettigs saam en lag saam.
15 VRA JOU KIND OM JOU IETS TE LEER
Tieners en tegnologie loop saam soos brood en konfyt. Vra jou tiener om jou iets te leer en gebruik die tyd as bindingstyd.
16 MOENIE JOU KIND OP FACEBOOK IRRITEER NIE
‘n Ma is soms ‘n gevaarlike wese op sosiale media. Moenie onvanpaste dinge sê en dadelik kommentaar op al hul plasings lewer nie. Wees versigtig met jou “likes”. Jou kind se Facebook-bladsy gee vir jou ‘n unieke perspektief op hul lewe. Gesels egter ook oor die verantwoordelikhede van sosiale media.
17 BYT JOU TONG
Jou tiener is nie perfek nie en gaan foute maak. Probeer om tot tien te tel en onthou, jy is jou kind se voorbeeld. Hoe jy konflik hanteer, gaan sy of haar konflikhantering beïnvloed.
18 MOENIE JOU KIND MET ANDER VERGELYK NIE
Ja, jy was dalk die Dux-leerling op skool, maar is dit nodig dat jou kind heeltyd moet hoor hoe wonderlik jy op skool gedoen het en hoe swak hy doen? Of hoe goed haar niggie oor hekkies seil terwyl sy skaars ‘n 400 m kan deurswoeg? Tieners wil soos individue met spesiale eienskappe voel.
19 GUN JOU KIND VRYHEID
Wees versigtig vir helikopterouerskap. Natuurlik moet ‘n mens altyd seker van jou kind se veiligheid wees, maar tieners moet ook sekere vryhede geniet, soos om ‘n sokkie by te woon. As jy bekommerd is, noem aan jou kind dat jy bekommerd is en dat jy versekering nodig het. Vra uit oor hul planne. Gaan daar ouertoesig wees? Wat sal jou kind doen as daar tieners is wat drink en dwelms gebruik? Gesels met jou kind oor kwessies soos seksualiteit – die gevare en reperkussies.
20 GEE ONVOORWAARDELIKE LIEFDE
Kinders moet nooit voel dat hulle hul ouers se liefde moet verdien nie. Hê jou kind onvoorwaardelik lief en wys jou liefde daagliks.
AANVULLENDE BRON: www.ahaparenting.com