Raak jy hierdie tyd van die jaar benoud of is dit vir jou rustig en lekker? Volg ons oorlewingsgids
Deur Ansja Ferreira
Ná ’n jaar se werk en aktiwiteite, kom die jaar nou tot ’n einde en dis tyd vir rus en ontspan. Tog ervaar baie mense om verskeie stres dié tyd van die jaar en volgens kenners voel sommige mense asof hulle beheer verloor. Dit hoef nie só te wees nie.
Belê in jou verhouding
Januarie is glo volgens www.edivorcepapers. com dié tyd vir egskeidings. Dalk is dit dan juis hierdie tyd wat jy in jou liefdesverhouding moet belê. Mariana Muller, ’n lewensafrigter van Hartbeespoort, sê liefdesverhoudings skop met ’n verliefde fase af waar paartjies glo hulle is dieselfde.
“Twee mense is egter nooit heeltemal dieselfde nie. Hul manier van vakansie hou verskil dalk – een wil kamp en die ander een wil in luuksheid bly. Aan die begin sal hulle albei doen, want hulle wil bymekaar wees, maar mettertyd wil elkeen sy eie ding doen. Dit kan na ’n fase oorgaan waar mense net oorleef. Die gesprek, fokus en liefde word na vriende, kinders, sport of TV verplaas omdat mense mekaar nie kan verander nie en die vonk verdwyn.”
Volgens Mariana het elke persoon ’n spesifieke stel waardes. “Waardes is die dryfkrag agter elke mens se besluite en oordeelsvermoë. As paartjies se waardes verskil, kan dit baie konflik veroorsaak. Dis belangrik om jou eie waardes en ook dié van jou lewensmaat te ken en te verstaan.
“As pare weer op mekaar aangewese is tydens gesinsvakansies of wanneer kinders die huis verlaat, kom hulle met ’n skok agter dat hulle weg van mekaar gegroei het. Elke verhouding verg opofferings, veral as die verliefdheidsfase verby is. Getroude pare verleer om dinge saam te doen en gehaltetyd saam deur te bring. Hoewel ’n nuwe verhouding vir baie mense aanloklik lyk, is dit nie noodwendig die antwoord nie. Fokus van nuuts af op die mooi eienskappe waarop jy verlief geraak het. Bederf en waardeer die mens aan jou sy. Positiewe verandering in een verhoudingsmaat het baie keer positiewe verandering in die ander maat tot gevolg,” sê sy.
Fokus op jou behoeftes
“Die betekenis van Kersfees het na duur geskenke, uitspattige kos en groot familiebyeenkomste verskuif,” sê Mariana.
“Hoeveel mense is ooit tevrede met hulself? As jy net weer jou familie bymekaar kon hê, meer geld of ’n lewensmaat kon hê, maerder wees, ensovoorts. ’n Mens kan altyd bly hunker na wat anders kon gewees het, of jy kan ’n besluit maak om die beste van jou omstandighede te maak,” sê Mariana. “Fokus op jou behoeftes en verbeter waar jy glo dit te kort skiet.”
Wenke vir eenlopendes
As jy alleen is, kan geleenthede soos Kersfees en Nuwejaar baie moeilik wees, omdat jy hierdie tyd meer van jou status as eenlopende bewus is. Verskeie studies het gewys dat eensaamheid nadelig vir gesondheid kan wees en dat veral ’n persoon se bloeddruk nadelig daardeur geraak word.
- Kry ’n troeteldier. ’n Studie deur Zasloff en Kidd het bewys dat eenlopende vroue wat troeteldiereienaars is, heelwat minder eensaamheid ondervind het as dié daarsonder.
- Reik na ander uit. Maak kontak met jou eenlopende vriendin, familielid of kennisse. Maak ’n afspraak vir koffie. Miskien het julle meer gemeen as wat jy gedink het.
- Bly besig. Sluit by ’n dansklas, skilderlesse, ’n pottebakkerklub, die gimnasium, rolbalklub, gholfklub of ’n liefdadigheidsvereniging aan of raak by jou kerk se aktiwiteite betrokke.
- Doen iets op Kersdag. Eet saam met ander eenlopendes of kuier saam met familie om die eensaamheid teen te werk. As jy niemand het by wie jy kan eet nie, beteken iets vir minderbevoorregtes, ander eensames of siekes deur op Kersfees siek mense of kinders in die hospitaal te gaan besoek.
Pasop vir oormaat
Vir mense wat gedurende die jaar ’n ernstige poging aangewend het om gewig te verloor, kan die feestyd ’n hindernis veroorsaak, sê Mariana. Dit gaan gewoonlik met blootstelling aan ryk en lekker kos en baie alkohol gepaard. Mariana gee die volgende raad:
- Hou jou porsies klein.
- Oorweeg voedsame slaaie en waak teen slaaie wat te veel stysel, mayonnaise, kondensmelk of room bevat.
- Wanneer alkohol in die bloedstroom teenwoordig is, is dit volgens die hiërargie van energieverbruik die eerste bron wat deur die liggaam gebruik word. Dit is egter nie so voordelig as wat dit klink nie, want die moontlikheid neem toe dat ander kilojoules wat daarmee saam ingeneem word, as vet gestoor word. Alkohol onderdruk die werking van die sentrale senuweestelsel en vertraag die metabolisme. Alkohol (29 kJ per gram suiwer alkohol) bevat byna twee keer meer kilojoules as koolhidrate (17 kJ per gram) en verskaf geen voedingstowwe nie. Beperk alkohol tot matige hoeveelhede wat binne ’n gesonde lewenstyl pas.
- Vleis: 100 g boerewors bevat omtrent 36 g vet teenoor ’n geroosterde hoenderborsie van 150 g sonder vel wat omtrent 7 g vet bevat.
- Dit is belangrik om op voedingstabelle te let.
- As jy voel dat jy ooreet het, wend ’n poging aan om dit voor die volgende ete “terug te werk”. Kry jou familielede om saam met jou ’n ent vinnig te gaan stap.
- Kitsdiëte behandel die simptoom, maar los nie die oorsaak op nie. ’n Lewenstylverandering neem tyd, aangesien jare se gewoontes verander moet word. In enige lewenstyl is daar tye wat dit makliker maak om by lewenstylveranderings te hou en ook moeiliker tye soos partytjies, vakansies en die feestyd. Beplan vooraf ’n makliker strategie wat voorkom dat jy die nuwe jaar negatief begin.
Wees wys met jou geld
“Die ekonomie is in ’n afwaartse daling en geld is net nie beskikbaar nie,” sê Connie Bruwer, ’n geöktrooieerde rekenmeester.
“Die grootste foute wat mense in die feestyd maak, is oorbesteding en onderbegroting,” sê hy. “Mense dink nie wat hulle doen nie. Hulle ontvang in Desember hul jaarlikse bonus en skielik lyk dit vir hulle asof hulle baie geld het. Hulle koop dan te veel en koop ook op skuld en met hul kredietkaarte. Hulle dink glad nie aan uitgawes wat hulle Januarie moet dek nie. Wanneer Januarie kom, kan hulle dan nie hul verpligtinge nakom nie en dit lei tot ’n bose skuldkringloop,” sê Connie.
- Moenie in die versoeking gelei word om jou spaargeld vir onnodige luukshede aan te wend nie.
- Stel ’n begroting op en maak vir geskenke, onthaal, vakansie-akkommodasie en reiskoste voorsiening. As jou begroting nie klop nie en jy agterkom dat jy skuld sal moet aangaan om alles te kan bekostig, sal dit beter wees om af te skaal en aan geskenke, onthaal en vakansiekoste te sny.
- Besluit vooraf hoeveel jy op elke persoon vir ’n Kersgeskenk gaan bestee en bly by jou begroting.
- Wees eerlik met jou familie en stel dit duidelik dat jy kleiner geskenke gaan gee of selfs geen geskenke nie.
- Maak jou eie Kersgeskenke, versierings en kaartjies.
- Deel onthaalkoste met familie en vriende. Groter families kan reël dat elke gesin iets vir die ete saambring.
- Gebruik jou bonus wys. Betaal eerstens al jou skuld af, gebruik van jou bonus om geld weg te sit vir ’n neseier wat jy in tye van nood kan gebruik, bepaal watter koste daar vroeg in die jaar gaan wees, soos skoolgeld, skoolklere, jaarlikse fooie of herstelwerk aan jou huis en voertuig. Hou geld eenkant sodat jy nie Januarie skuld hoef aan te gaan om die uitgawes te kan dek nie.
- Wanneer vakansie ter sprake is, hou in gedagte dat buite-seisoen-tariewe heelwat goedkoper is. Koop jou kruideniersware vooraf aan. Die pryse by vakansiebestemmings is dikwels hoër. Maak jou eie padkos. Wegneemetes gaan baie duurder kos.
Hou stresvry vakansie
- Belê in ’n noodhulpkissie. Dit behoort medikasie vir naarheid, diarree, koors, hoofpyn, verkoue en griep, sooibrand en insekbyte in te sluit.
- Maak reeds ’n paar weke voor jou vakansie ’n lys van alles wat jy moet inpak.
- Maak vroegtydig planne vir die versorging van jou troeteldiere en huisplante.
- Doen deeglike beplanning. Wanneer jy by jou vakansiebestemming aankom, kry brosjures van al die besienswaardighede.
- Rus tussenin. Wissel ’n besige dag met opwindende besoeke aan besienswaardighede met ’n rustige, sorgvrye dag af. Delegeer take.
- Hou die kleintjies in gedagte. As jy met jong kinders vakansie hou, is dit noodsaaklik om die aktiwiteite rondom hulle aan te pas. Dit gaan dalk nodig wees om die kinders in die middag ’n kansie te gee om te dut, veral as hulle die oggend in die water baljaar het.
- Vergeet van werk. Behalwe as jou werk dit vereis, moet jy nie e-posse en werksoproepe hanteer nie.
- Pas jouself op. Vind uit oor die gehalte van drinkwater by jou vakansiebestemming en moenie die sonbrandmiddel vergeet nie. Tref ook voorsorg teen insekbyte. As jy by die see vakansie hou, wees versigtig vir bloublasies, seekastaiings, see-anemone en jellievisse. Gaan na die naaste lewensreddingstoring vir raad en hulp as jy deur een toegetakel is. Lewensredders beveel aan dat jy asyn gebruik as jy wel deur bogenoemde gesteek is. Wees veiligheidsbewus in jou voertuig, in groot winkelsentrums en waar skares mense bymekaar is.
- Sluit belangrike dokumente soos paspoorte en identiteitsdokumente toe.
- Kry genoeg slaap, werk so min as moontlik en hou lekker vakansie!
Kontak Mariana by 083 658 6299 of [email protected];
Besoek www.thebmisolution.co.za of www.beatitudomaximelifecoaching.co.za