Volgens ’n nuwe studie kan iemand anders se stres net so ’n invloed as jou eie stres op jou brein hê
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Jy sien dit sommer vroegdag al by die werk. Jou kollega se gesig lyk soos ‘n donderwolk en haar gemoed is laer as slik op die seebodem. Nie lank nie of jy is ook nie meer die vrolike vinkie van vroeër nie en jy besef: Jou kollega se gemoed het jou aangesteek.
‘n Nuwe studies sê ja, dit is beslis die geval. Die resultate is in die joernaal Nature Neuroscience gepubliseer en daar is gevind dat stres en emosies inderdaad aansteeklik kan wees, sê Jaideep Bains, ‘n fisiologieprofesser aan die Hotchkiss-breininstituut.
“Of hierdie invloed op jou brein, langdurige gevolge kan hê, is wel nog nie bekend nie.”
LEES OOK: 50+ stressimptome
Hoewel hierdie navorsing op muise gedoen is, glo die studieleiers dat dit beslis die geval met mense ook is.
“Ons kommunikeer baie maklik ons stres aan ander hoewel ‘n mens dit soms nie eens besef nie. Daar is selfs bewyse dat sekere stressimptome van lyers van posttraumatiese stresversteuring in hul geliefdes kan posvat.”
Daar is gelukkig ‘n ander kant van die saak ook, die vermoë om ander mense se emosies aan te voel, vorm ‘n groot deel daarvan om sosiale bande te bou en te versterk.