Vat jy verantwoordelikheid vir jou dade of dink jy die wêreld is teen jou en almal anders is verkeerd behalwe jy? Dan is hierdie artikel vir jou
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
In ‘n brief aan Vrouekeur, skryf Marié*: “My suster maak altyd asof sy die slagoffer is. Sy vat nooit verantwoordelikheid vir haar dade nie en maak altyd asof almal teen haar is.
“As sy huweliksprobleme het, is dit hy en nooit sy nie. As sy met haar vriendinne baklei, is dit hulle wat nie haar kant insien nie. As haar kind amok by die skool maak, verstaan die onderwyser nie haar kind nie. As ek en sy vassit, is dit altyd my skuld. Sy blameer ook ons ouers en ons kinderjare op als wat nou in haar lewe aan die gang is! Sy sal byvoorbeeld die een dag jammer sê oor wat sy gesê het en net die volgende dag dit terugtrek, want dit is eintlik als ander mense se skuld. As sy nie my suster was nie, het ek lankal alle bande verbreek. Doen asseblief ‘n artikel daaroor.”
Marié se suster is beslis nie die enigste een met hierdie probleem nie. Ken jy iemand wat altyd die slagoffer is en nooit verantwoordelikheid vir sy of haar dade vat nie?
Dr Nicola Davies skryf op die webwerf https://healthpsychologyconsultancy.wordpress.com dat mense wat die slagofferrol speel, dit vir verskeie redes doen. Van die redes is om mense te beheer, om hulself te regverdig, om aandag te soek en om ‘n manier te kry om situasies te beheer. Hoewel hulle soms sekere omstandighede kan vermy, hou hulle daarvan om die slagoffer te speel en sal hulle dit eerder aangryp.
So lyk die tipiese slagoffers:
- Hulle is geneig om ander mense te manipuleer en verbaal of fisiek te mishandel en dan die ander persoon daarvoor te blameer.
- Hulle beïnvloed of beheer ander mense se simpatie om hul ondersteuning te kry.
- Hulle neem nooit verantwoordelikheid vir hul lewe nie.
- Hulle dink en praat baie oor hoe ander mense hul goedheid misbruik in plaas van andersom.
- Hulle verbreek verhoudings as mense teen hul “slagofferskap” in opstand kom.
- Hulle vra “voorwaardelik” om verskoning. Byvoorbeeld: “Ek is jammer dat ek op jou geskree het, maar dis omdat jy my daartoe dryf.”
Wees op die uitkyk
- Die slagoffer is afhanklik van jou goedkeuring, ondersteuning en simpatie en dit kan dreinerend wees.
- Die slagoffer maak jou kwaad omdat die persoon altyd op jou gevoel probeer speel.
- Die slagoffer sal enige situasie draai sodat hulle die eintlike een is om jammer te kry.
- Die slagoffer het geen belangstelling in jou probleme en stories nie, als moet net om hulle draai.
- Hulle sal soms tot uiterstes gaan om simpatie te verkry.
Is jy die klassieke slagoffer?
- Weier jy om verantwoordelikheid vir jou eie geluk of ongelukkigheid te vat?
- Draai jy enige situasie om om die slagoffer te speel?
- Manipuleer jy ander mense om jou sin te kry?
- Neem jy wraak as jy voel jy word te na gekom?
- Glo jy slegte dinge wat met jou gebeur het niks met jou te doen nie en is heeltemal buite jou beheer?
- Raak jy kwaad as mense vir jou uitwys dat jy nie verantwoordelikheid vir jou dade vat nie?
- Toon jy passief-aggressiewe gedrag as daar konflik is?
- Voel jy dikwels hulpeloos en asof die wêreld teen jou is?
- Speel jy pynlike voorvalle herhaaldelik in jou kop af en raak dan van voor af kwaad?
- Maak jy van molshope berge en ruk alles altyd uit verband?
Hoe hanteer ek die slagoffer?
Die slagoffer kan jou dreineer en uitput en jy mag dalk soms voel om alle bande te verbreek. Hulle sal dan weer die slagofferrol speel en jou soos die vark in die verhaal laat voel. Onthou net dat die negatiewe siklus sal voortgaan tot die persoon begin om verantwoordelikheid vir sy of haar dade te vat. Daag die slagoffer uit om te verander en wys uit dat verandering nodig is. Komplimenteer die persoon as hy of sy verantwoordelikheid vat. “Ek hou daarvan as jy so ‘n goeie houding het!”
Raad vir “slagoffers”
- Vat verantwoordelikheid vir jou dade en besef dat almal nie teen jou is nie.
- Leer om foute te aanvaar en te erken.
- Besef dat jy selfwaarde het en dat jy ‘n gelukkige lewe verdien, maar dat jy self ‘n groot rol daarin speel.
Lees meer:
https://psychcentral.com
https://healthpsychologyconsultancy.wordpress.com/2013/02/09/the-romantic-personality/