’n Sondag lê soos ’n berg voor jou. Hoekom? Want Maandag volg op sy hakke. Hier’s tien-plus wenke om hierdie dag te gebruik om ’n produktiewe week mee af te skop
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ek weet nie van julle nie, maar ‘n Sondag is vir my nogal neerdrukkend. ‘n Mens sien vir dae uit na ‘n naweek en dan gaan dit blitsvinnig verby en as jy weer sien, speel Carte Blanche se kenwysie en jy weet die naweek is in sy kanon in. Maar volgens die mense wat weet, moet jy eintlik ‘n Sondag as ‘n afspringplek vir ‘n goeie, produktiewe week sien.
Kom ons probeer dit saam. Hier is ‘n paar wenke:
- Maak jou e-pos se inboks skoon sodat jy nie dadelik deur ‘n klomp gemorspos hoef te stoei as jy by die werk kom nie.
- Trek ‘n doenlysie vir die week op.
- Sit alles vir die week op die kalender om seker te maak dat jy by alles uitkom. Delegeer nou as jy moet.
- Werk ‘n maaltydbeplanner en inkopielysie uit en gaan winkel toe om als te koop wat jy nodig het. Gebruik sommer die kans om ou kos in die yskas weg te gooi.
- As jy skoolgaande kinders het, loer na hul lysies vir die week en besluit nou wat jy moet koop en hoe jy als georganiseer gaan kry.
- Maak die huis netjies sodat jy nie ‘n Maandagoggend in ‘n deurmekaar huis hoef te funksioneer nie.
- Maak jou handsak skoon en help die kinders om hul sakke reg te pak.
- Sit alles vir ontbyt en Maandag se kosblikke reg.
- Loer wat die weer gaan aanvang en sit jou klere vir die volgende dag uit.
- Skeduleer die nodige afsprake wat jy moet.
- Kry vir jou iets waarna jy die week uitsien en skryf dit in jou dagboek.
- Raak stil en dink oor wat vir jou belangrik is.
- Pamperlang jouself, lê in ‘n borrelbad, sit ‘n masker op en doen naels.
- Doen iets lekkers die aand voor jy gaan slaap soos om ‘n fliek of ‘n reeks te kyk sodat jy met ‘n goeie gemoed jou nuwe week kan afskop.
BRONNE: www.therefinedrevelry.com, http://whosayswhat.co/