Volgens navorsing is daar beslis iets wat kleuters se slaapgehalte kan beïnvloed … Lees hier verder
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Jy kan nie verstaan hoekom jou kleuter so sleg slaap nie. Jou kind is so besig deur die dag, maar as hy in die aand gaan slaap, stry hy teen die slaap en raak net nie rustig nie. Dan word hy boonop deur die nag wakker. Hoekom slaap hy so sleg?
Volgens ‘n studie wat in Engeland gedoen is, is kleuters te besig met tablette en slimfone in die dag en dit benadeel hul nagrus.
In die studie het die kinders wat deur die dag met tablette of slimfone gespeel het, langer gevat om aan die slaap te raak as kinders wat nie daarmee gespeel het nie.
Die studie is in die joernaal Scientific Reports gepubliseer en is die eerste studie in sy soort wat kleuters, tabletgebruik en slaap ondersoek het.
Tim Smith, ‘n lektor in kognitiewe sielkunde aan Birkbeck- universiteit in Londen, sê ouers word aangeraai om hul kinders se skermtyd oor die moontlike negatiewe effek op slaap te beperk.
Die studie het ook gewys hoe langer kinders se skermtyd was, hoe swakker het hulle geslaap.
BRON: Live Science