Skolesport bring soms die lelikste in ouers uit. Hoe moet ’n ouer dit benader?
Deur: Luisa van der linde
Spesifieke kommentaar van ouers:
“Boeta, vandag moet julle daai trofee huis toe bring!”
Prof. Ankebé sê alhoewel ‘n ouer die bogenoemde stelling dalk glad nie as negatief bedoel het nie, is die fokus op ‘n uitkomsdoelwit wat nie binne die kind se beheer is nie. Die opponent kan net ‘n sterker span wees of sy spanmaats maak foute wat hulle die wedstryd kos. Indien ‘n kind so ‘n boodskap kry, is sy fokus onmiddellik op die uitkoms van die wedstryd, wat buite sy beheer is. Sodra ‘n kind fokus op ‘n veranderlike wat buite sy beheer is, kan ‘n afname in selfvertroue en ‘n verhoging in angs verwag word, wat weer ‘n negatiewe uitwerking op sy prestasie op die veld kan hê.
Jannie Putter gee raad oor ouers se langs-die-veld-aanmerkings:
“Boeta, vandag moet julle daai trofee huis toe bring!”
Nee, sê eerder: “Boeta, Pappa hoop jy kry daai tackle vandag reg en wie weet, dalk druk jy ‘n drie! Ek weet jy gaan net jou beste gee. Geniet elke oomblik.”
“Sjoe, jy het so hard probeer, maar …”
Nee, probeer liewer: “Kom hier my kind. Pappa weet jy het alles gegee en dat jy nou teleurgesteld is, maar ek wil vir jou sê jy is my champ!”
“As jy vandag ‘n drie druk, oor 1.40 m spring of eerste kom, gee ek jou ‘n Ipad”
Moet onder geen omstandighede kinders beloon vir sportprestasies nie. Sport is ‘n liefde en ‘n honger.
“Jy het nou 10 km gedraf, wanneer skryf jy in vir ‘n 21 km-wedloop?”
Nee, sê eerder: “Kom vertel vir Pappa hoe lekker was vandag? Kom ons gesels oor jou droom, wat sien jy vir jouself in die toekoms?”
“Geluk met jou provinsiale kleure, die SA’s is nou in jou bereik”.
Ken jou kind se droom, moet dit nie vir hom gee nie. Hierdie gaan oor ‘n verhouding.
“Halfkleure. Dis mooi, maar onthou, ek en jou pa het erekleure gehad”.
Moenie dit sê nie. Probeer eerder: “Wow, wow, wow! Pappa is so trots op jou. Ek weet jy is so bly.”
“Ek gaan jou inskryf vir daai rugbykliniek. Jy vang die bal of jy pap in jou hande het”.
Nee, sê eerder: “Waaraan dink jy sal jy na vandag wil werk? Is daar iets waarmee Pappa jou kan help?”.
“Moenie so slapgat speel nie. Ek het my Saterdag opgeoffer om hier te kom sit”.
Nee. “Kom hier my seun. Vertel vir Pappa wat het jy vandag gedink en gevoel in die wedstryd? Kom ek vertel vir jou hoe bang ek was toe ek klein was, totdat ek geleer het hoe om te tackle en hoe om te speel. Voel jy ook partymaal so?”