Sekere rituele laat kinders veilig en geliefd voel. Hier is ’n paar idees om dit vir hulle spesiaal te maak
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
1. Bestee tyd saam met elkeen
Dis nie altyd maklik nie, maar probeer om minstens een keer per week spesiale bindingstyd met elkeen van jou kinders te geniet. Jy kan dalk net gesels met ‘n tiener en met ‘n kleiner kind kan jy weer blokkies bou.
2. Maak saam kos
Ja, kinders mors lekker en dit kan weer jou geduld toets, maar dit skep vir hulle heerlike kosbare herinneringe. Probeer saam ‘n resep of maak iets eenvoudigs soos muffins uit ‘n pakkie. Gee vir elke kind ‘n takie.
3. Eet saam
Probeer om as gesin saam te eet en dit dan die tyd te maak wat julle gesels. Vra vir jou kinders om te noem wat die beste en slegste van hul dag was.
4. Badtyd
As kinders nog klein is, maar hierdie ‘n lekker speel- en onthoutyd vir hulle.
5. Storietyd
Lees ‘n storie voor slapenstyd vir klein kinders en soos hulle groter raak, moedig hulle aan om lesers te word met ouderdomsgepaste boeke. Lees ‘n bladsy en dan kan hulle weer ‘n bladsy lees.
6. Gee ’n takie
Laat kinders van kleins af help om byvoorbeeld jul troeteldiere te voer. Dit gee hulle ‘n sin van belangrikheid en maak hulle verantwoordelik vir iets.
7. Speel speletjies
Speel kaartspeletjies terwyl julle kos maak of ná etenstyd. Dis pret en heerlike gesinstyd.
8. Kry jul eie gesinsding
Kinders is gek oor binnegrappies, iets wat net jul gesin sal verstaan, of ‘n spesiale handskud of soen, of ‘n kode wat julle verstaan.
9. Aktiwiteit per maand
Laat jou kinders minstens een keer per maand ‘n aktiwiteit kies wat julle as gesin saam kan doen.
Leer meer hier:
En lees hier op raisingchildren.net