Voel jul eens passievolle liefde nou so opwindend soos ‘n ou vadoek? Herontdek jou geliefde weer met hierdie paar wenke
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Hou julle nog hande vas of het jy al vergeet hoe dit voel?
Wees liefdevol en wys jou liefde fisiek. Begin en eindig die dag met ‘n drukkie en ‘n soen.
Bedank jou maat gereeld vir dit wat hy vir jou beteken.
Dit voel soms of sekere mans staande ovasies verwag as hulle die vuilgoed uitvat, maar ons almal soek erkenning vir dit wat ons doen. Sê vir jou maat hoe baie jy dit waardeer dat hy sekere dinge vir jou doen.
Praat mekaar moed in
Ons almal kry soms ‘n af dag – daai dag wat jy voel asof die hele wêreld teen jou is. Dis juis dié dae wat jy ‘n geliefde aan jou sy moet hê. As jou geliefde negatief of af voel, praat hom of haar moed in.
Sê mooi dinge vir mekaar
‘n Kompliment kan jou dag maak – en dis vir mans en vroue lekker. Gee ‘n opregte kompliment en laat jou maat só geliefd voel.
Maak tyd vir mekaar
‘n Mens hoor dit so baie dat dit al ‘n cliché is, maar die wêreld is vandag so gejaagd dat ‘n mens nie by jou mense uitkom nie. Maak doelbewus tyd vir jou maat, met gehaltetyd en praattyd hoog op die lys.
Wees geduldig
‘n Mens raak nou en dan geïrriteerd met jou maat, dis onvermydelik, maar dit kan baie vir jul verhouding beteken as julle geduldig met mekaar en jul tekortkominge is.
Respekteer jou maat
Jy word van kleins af geleer dat respek vir mens en dier noodsaaklik is, maar soms is jou geliefde die mens wat die minste respek by jou kry.
Laat molshope molshope bly
Dis nie nodig om van elke kwessie ‘n argument te maak nie. Kies jou gevegte en baklei “mooi”.