Jy het seker al van die vyf liefdestale gehoor, maar weet jy wat is jou en jou maat sʼn en praat julle dieselfde taal?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Baie mense het al gehoor van die bekende terapeut en skrywer dr Gary Chapman se vyf liefdestale. Dis die tipe ding wat ʼn mens hoor en dink: “Aha, dis waar!” maar dan vergeet jy weer daarvan en gaan aan met jou lewe.
Jy kan dit egter prakties uitvoer en dit kan baie vir jou verhouding beteken.
Oukei, so kom ons kyk gou weer wat die verskillende soorte liefdestale is:
1 Woorde van bevestiging
2 Gehaltetyd
3 Geskenke
4 Diensbaarheid (takies)
5 Fisieke aanraking
Hoe ontdek ek my en my geliefde se liefdestaal?
Dr Gary Chapman sê jy moet eerstens kyk hoe jy jou liefde aan ander uitdruk. Hou jy daarvan om takies vir ander mense te doen? Dan is diensbaarheid jou taal. Geniet jy dit om klein geskenkies vir mense te gee? Dan is geskenke jou taal. As jy graag ander prys en mooi dinge vir ander mense sê, dan is woorde van bevestiging jou liefdestaal.
Kyk ook na dit waaroor jy kla … As jy jou vir jou man sê: “Ek dink nie jy sal ooit my hand vashou of my druk as ek dit nie eerste doen nie” dan is fisieke aanraking dalk jou liefdestaal. Jy kan ook ʼn primêre en ʼn sekondêre liefdestaal hê. Jy kan dalk na al die liefdestale kyk en dink: “Waarsonder sal ek kan gaan? Ek is nie gepla oor geskenke nie en hy kan ook maar niks vir my sê of doen nie, maar hy moet my vashou!” Dan is fisieke aanraking jou liefdestaal.
Hoe om die taal te praat:
Liefdestaal | Hoe kommunikeer ek? | Aksies | Dit moet jy vermy |
Bevestigingswoorde | Bemoedig, bevestig, waardeer, wys empatie, luister aktief. | Stuur ʼn onverwagte nota, Whatsapp of kaart. Bemoedig jou maat. | Kritiek wat nie konstruktief is nie en as jy nie sy/haar pogings erken en waardeer nie. |
Fisieke aanraking | Nie-verbaal – gebruik lyftaal en aanraking om liefde te toon. | Gee drukkies, soen, hou hande, wys fisieke liefde op ʼn gereelde basis. Maak intimiteit ʼn prioriteit. | As jy jou maat fisiek afskeep, en koud op jou maat reageer en ook intimiteit rantsoeneer. |
Geskenke | Maak jou geliefde ʼn prioriteit en wees bedagsaam. | Klein dingetjies maak jou maat gelukkig. Dink oor geskenke wat jy gee, los ʼn roos waar sy dit kan kry. Wys groot waardering as jy ʼn geskenk kry. | As jy spesiale okkasies vergeet en onentoesiasties geskenke gee. |
Gehaltetyd
|
Een-tot-een-tyd is baie belangrik. | Skep spesiale oomblikke, gaan stap en doen lekker dinge saam met jou maat. | As jou aandag afgelei word as julle tyd saam bestee. |
Diensbaarheid | Sê dinge soos: Ek sal help. Jou maat wil weet dat jy saam met hom of haar wil wees en regtig wil help. | Doen takies saam of maak vir jou maat ontbyt in die bed. Gaan uit jou pad om jou maat se werkslading te help verlig. | As jy eerder aan ander mense se versoeke voldoen en nie die take doen wat jy gesê het jy sal nie. |
BRON: www.the5lovelanguages.com