Kindgrootmaak is g’n grap nie, ons het ’n paar wenke vir enkelouers opgespoor
Saamgestel deur ZERELDA ESTERHUIZEN
In Suid-Afrika bly 38% van kinders net by hul ma’s en slegs ‘n klein persentasie van ons bevolking het die inkomstevlakke wat enkelouerskap kan bekostig. In Amerika het enkelouerhuishoudings sedert 1960 verdriedubbel.
Dis nie maklik om kinders alleen groot te maak nie en benewens al die emosionele uitdagings is finansies een van die grootste probleme.
Danelle van Heerde, hoof van adviesprosesse by Sanlam Persoonlike Finansies sê dis krities vir enkelma’s om so gou as moontlik te begin spaar.
“Beplanning en struktuur is nodig om kinders groot te maak en boonop voltyds te werk. Dieselfde benadering geld ten opsigte van finansies. Daar is nie net dag-vir-dag-uitgawes nie, maar daar is ook langtermyndoelwitte soos studies.”
Danelle gee die volgende wenke vir enkelma’s
- Begin so vroeg as moontlik te spaar, al is die bedrag klein. Kyk na ‘n belastingvrye spaarrekening.
- Prioritiseer jou behoeftes. Werk met ‘n finansiële adviseur om seker te maak jou korttermynbehoeftes word aan voldoen sowel as langtermyndoelwitte soos aftrede.
- Kry betroubare hulp. Dis heerlik, maar stresvol om kinders groot te maak. Maak seker jy het ‘n goeie ondersteuningstelsel.
- LEES OOK: Aftiklys vir enkelma’s om finansiële storms te trotseer
- Maak jou kinders deel van die begrotingsproses sodat hulle kan weet hoe dit werk. Begin met klein stappies met klein kinders.
Nog wenke vir enkelma’s
- Moenie te veel stres oor dinge wat buite jou beheer is nie. Fokus eerder op dit wat jy wel kan doen.
- Dis maklik om gefrustreerd en kwaad te wees oor alles wat jy alleen moet behartig, probeer om dit nie op jou kinders uit te haal nie. Tel tot tien as jy kwaad is. Dis net so maklik om te probeer opmaak met geskenke vir dit wat jou kinders nie het nie. Probeer ‘n balans handhaaf.
- Moenie te veel verantwoordelikhede op jou kinders plaas nie. Woorde vir seuns soos “jy moet nou die man wees” plaas te veel druk op hulle. Kinders het steeds versorging nodig.
- As jy geskei is, moet nooit slegte dinge oor jou eks voor jou kinders sê nie. Dis nie regverdig teenoor kinders nie.
- Doen lekker dinge saam met jou kinders, as geld knap is, dink uit die boks en soek na goedkoop natuuraktiwiteite.
- Plaas ‘n hoë waarde op verhoudings met mense van albei geslagte. Moenie enige negatiewe gevoelens wat jy teenoor die teenoorgestelde geslag mag hê aan jou kinders oordra nie.
- Kry ‘n werkskedule wat vir jou en jou gesin werk. Verduidelik aan jou werkgewer wat die situasie is en gesels oor moontlike fleksietyd.
- Plaas dinge in perspektief wanneer jou kinders jou oor jul situasie uitvra. Verduidelik aan hulle dat elke gesin anders is, maar dat anders nie noodwendig sleg is nie.
- Sien na jouself om. Om ‘n enkelouer te wees is ‘n groot verantwoordelikheid en harde werk. Maak seker jy kry genoeg rus.
BRONNE: www.parenting.com, www.sanlam.co.za, www.parents.com