Die skoolvakansie is hier, maar het jy ’n antwoord op die ‘Mamma, wat gaan ons doen?’-vraag?
Deur: Jaomi Zeeman
Die skole sluit vir ’n week (of meer, afhangend vandie vakansie) en kinders dwarsoor die land gaan elke dag in hul ouers, voogde of toesighouers se sorg wees. Wat ook al jul planne vir die vakansie is, dit kan soos ’n ewigheid voel as jy kinders moet vermaak of besig hou.
Daar moet steeds struktuur wees
Alhoewel ouers dit ook gedurende skoolvakansies geniet dat hulle nie soveel beheer oor reëlings rondom hul kinders hoef uit te oefen nie en hulle ook ’n blaaskans kry, moet alle reëls nie noodwendig oorboord gegooi word nie. Skep steeds ’n roetine rondom opstaan- en slaaptye. Sorg ook dat maaltye gereeld en min of meer op dieselfde tye geëet word. Beplanning, al is dit op ’n kleiner skaal, is steeds belangrik. Hou dit eenvoudig, maar stel ’n program op waarin sekere aktiwiteite of gebeure afgebaken word vir die vakansie. Só kan daar besluit word op een groter aktiwiteit en drie of vier kleiner aktiwiteite vir elke week van die vakansie. Aan die begin van elke week kan julle dan besluit wat julle op watter dae wil doen.
Bak en brou
Kosmaak en aktiwiteite in die kombuis is altyd ’n goeie idee, veral tydens die wintervakansie. Dit is nie net pret nie, maar ook goed vir die fynspierontwikkeling by kinders van alle ouderdomme. Dit bied kinders die geleentheid om kreatief met bestanddele te werk, belangrike vaardighede te oefen wat van hul selfstandige individue sal maak en bemagtig te word om ook ’n bydrae tot die huishouding te lewer – alles spelenderwys!
Met bak-en-brou-aktiwiteite moet die ouderdom en vaardigheidsvlakke van die kinders altyd in gedagte gehou word. Jonger kinders kan met basiese take soos bygooi, roer en balletjiesrol hand bysit. Ouer kinders kan al voedselverwerkers en mengers onder toesig of op hul eie hanteer.
Daar is vele resepte op die internet en in kookboeke beskikbaar wat gepas is om saam met kinders te maak. Probeer om dit interessant te maak en wees kreatief. Bak byvoorbeeld blou pannekoeke! Klik hier vir ál Vrouekeur se resepte vir gebak en poeding.
Dit is ook ’n goeie geleentheid om jou kosvoorrade vir die kwartaal op te bou. Julle kan muffins bak en vries om gedurende die kwartaal as skoolkos in te pak. Eetgoed soos gesondheidshappies kan weer in ’n lugdigte houer gebêre word as versnaperinge of kosblikvullers. Die kinders kan selfs help met die voorbereiding van geregte soos lasagne of tuisgemaakte pizza wat as aandetes vir die kwartaal gevries kan word. Maak dit ’n wen-wen-situasie!
Hier is ’n lekker maklike resep vir hawermouthappies
Bestanddele
125 ml (½ k) melk
500 ml (2 k) strooisuiker
40 ml kakao
125 ml (½ k) botter
5 ml (1 t) vanielje
250 ml (1 k) klapper
750 ml (3 k) hawermout
Metode
- Kook melk, suiker, kakao en botter vir ’n paar minute. Verwyder van hitte.
- Roer res van die bestanddele by en meng goed. Druk deeglik vas in ’n gesmeerde pan.
- Sny in stafies/blokkies as dit gestol is. Bewaar in ’n lugdigte houer.
Doen al die dinge wat deur die kwartaal agterweë gebly het
Vakansies is die ideale tyd om take af te handel. Die volgende aktiwiteite kan op hierdie lysie verskyn:
- Elkeen se skooltas en sportsak kan leeggepak en skoongemaak word. Sit dit sommer reg vir die nuwe kwartaal.
- Kaste en laaie kan reggepak word.
- Klere kan uitgesorteer, gepas en uitgegooi word. ’n Lys van nuwe benodigdhede kan sommer ook gemaak word.
- Ou speelgoed kan gesorteer, weggegooi of geskenk word.
Versprei hierdie “minder aangename” aktiwiteite oor die duur van die vakansie, byvoorbeeld een per week. Volg dit dan op met ’n lekker aktiwiteit (byvoorbeeld fliek) as dit suksesvol uitgevoer word. Alhoewel dit miskien nie die kinders se gunstelingtake is nie, kan dit tog lekker wees. Hou ’n paar peuselgoed byderhand en speel hul gunstelingmusiek hard terwyl hulle tasse regpak, kaste regruk, speelgoed sorteer of klere aanpas. Dit kan in ’n jolige affêre ontaard.
Wees ’n toeris in jou eie omgewing
’n Mens is dikwels geneig om buite jou eie omgewing vir vermaak te gaan soek, veral as jy op die platteland bly. Elke dorp en omgewing in ons pragtige land het egter ’n onuitputlike bron van skatte wat net ontgin moet word. Klik hier vir ons gids met goed om te doen in Johannesburg of klik hier vir ons gids met goed om te doen in die Kaap. Jy dink dalk dat jy jou dorp en omgewing ken, maar probeer ’n slag om soos ’n toeris daarna te kyk. Gaan soek op die internet vir besienswaardighede in en rondom jou dorp of buurdorpe – dalk vind jy iets waarvan jy nog nooit gehoor nie. Só ondersteun jy plaaslike besighede en leer jou kinders ook hul omgewing beter ken. Museums is een van die goedkoopste uitstappies wat ’n mens kan onderneem en jy sal verbaas wees oor hoe kinders so ’n besoek geniet.
’n Tikkie drama
Kinders kan hulself ure lank besig hou met rolspel, die aantrek van kostuums en grimering. Kombineer al hierdie dinge op ’n prettige manier deur verskillende temas of onderwerpe vir ‘n konsert of rolspel aan hulle voor te stel. Dit hoef nie noodwendig op ’n konsert uit te loop nie – die klem val hier meer op die proses en al die lekker aktiwiteite as op die produk.
Die volgende idees kan as riglyne dien vir temas of onderwerpe: Konings en koninginne/prinse en prinsesse, diere, seerowers,dokters, dokters, hansworse, sprokies of popsterre.
Gee die kinders toegang tot van jou ou klere en bykomstighede. Hou ook ou of goedkoop grimering byderhand waarmee hulle kan eksperimenteer. As hulle wil, kan hulle ’n konsert of rolspel uitdink.
Plantpret
Daar is talle dinge wat kinders van plante kan leer. Met ‘n klein begroting, ’n paar leë houertjies en ’n bietjie inisiatief kan kinders die wonder van plante ontdek. Die resultate en bevrediging is eindeloos.
Hier is ’n paar idees:
- Sit die toongedeelte van ’n ou sokkie of kous onderin ’n koffiebeker en dop die beengedeelte oor die rand. Maak dit klam, gooi ’n paar grassade onderin en vul dit met potgrond. Bind die sokkie toe, haal dit uit die beker, draai dit om en sit dit in ’n piering vol water. Die kinders kan ’n gesig op die sokkie teken of oë en ’n neus met knope vassteek. Plaas die piering met die sokkie-gesig in ’n vensterbank en maak die kop daagliks ’n bietjie nat. Ná ’n ruk sal die gesig begin “hare” groei!
- Plant boontjiepitte in ’n leë eierboks deur elke gaatjie met potgrond te vul, ’n boontjiepit daarin te druk en dit dan op ’n warm, lig plek te sit. Maak dit daagliks ’n bietjie nat. Wanneer die sade ontkiem en groot genoeg gegroei het, kan die eierboks natgemaak word en die holtes van mekaar losgeskeur word. Elke holte kan nou net so buite geplant word omdat die eierboks bio-afbreekbaar is. Dieselfde kan met ander sade gedoen word.
- Die saailinge van kruieplantjies (by kwekerye beskikbaar) kan in tuisgemaakte “potte” uitgeplant word. Sny die onderste helfte van melkkartonne af, spoel dit uit en trek dit oor met effekleurige papier. Julle kan ook leë jogurthouertjies of ander leë houers gebruik. Die kinders kan hiermee help en ook die papier mooi versier. Plant nou ’n saailing in elke versierde “pot” en plaas dit in die kombuis se vensterbank vir genoeg lig en warmte. Dit is ’n heerlike bederf om kruie uit jou eie “tuin” in geregte te gebruik!
Wees kreatief
’n Wintervakansie is die ideale tyd om die kinders hul kreatiwiteit te laat ontdek. Party kinders hou nie van teken of inkleur nie. Moet jou egter nie daarteen blind staar nie – daar is baie ander kreatiewe aktiwiteite waarvoor jy nie ’n wafferse Picasso hoef te wees nie.
’n Goeie wegspringplek is om te sorg dat daar altyd inkleurkryte, verf, penne, skoon papier, gom en skêre in jou huis beskikbaar is. Kreatiewe aktiwiteite is nie net goed vir kinders se breinontwikkeling nie, maar oefen en bevorder ook hulle hand-oog-koördinasie en help met hul fynspierontwikkeling.
Die volgende idees sal vir ure se pret sorg:
- Maak boekmerke. Knip lang reghoeke uit gekleurde karton. Laat die kinders dit met prente uit ou tydskrifte, letters, hul name of plakkers versier.
- Maak papierblomme. Daar is talle voorbeelde van patrone hiervoor op die internet beskikbaar. Jy kan selfs koerantpapier en die bladsye van ou dokumente of tydskrifte hiervoor gebruik.
- Maak papierpoppe. Teken die buitelyn van ’n basiese papierpop of papierpopmannetjie en knip dit uit. Die kinders kan nou klere, kostuums of superheld-uitrustings vir hulle papierpoppe volgens dieselfde buitelyne ontwerp en uitknip.
- Ryg krale. ’n Mens kan pakkies krale by handwerkwinkels koop, maar daar is ook ander huishoudelik artikels wat as “krale” kan dien. Ontbytpap met gaatjies in maak heerlike “krale” om te ryg en die eindproduk is boonop eetbaar! Pasta met gaatjies is ook ideaal om geryg te word. Die pasta kan vooraf in die kleure van die kind se keuse geverf word. Seuns kan korter rye krale ryg en sleutelhouers of geskenke daarmee maak.
- Vleg ’n vriendskapsbandjie. Kinders kan enigiets vleg, van wol en tou tot repe ou materiaal en selfs repe uit ’n gesnyde plastieksak. Maak die punte om ’n sentrale punt vas en vleg die “band” tot die verlangde lengte. Dit is ’n baie goeie oefening in konsentrasie en koördinasie.
- Maak artikels uit klei. Daar is verskeie resepte vir tuisgemaakte klei beskikbaar. Kleiner kinders kan ure se genot put uit kleispel. Hulle kan selfs aangemoedig word om die klei met ’n skêr te knip om hul knipvaardighede en fynspierontwikkeling te bevorder. Ouer kinders kan enige voorwerp uit klei maak, dit laat hard word en dan verf.
- Versier wasgoedpennetjies. Gebruik gewone houtwasgoedpennetjies en versier dit met mooi prentjies, patrone wat uit vilt of materiaal geknip is of plakkers aan die voorkant. Dit kan gebruik word om presente mee op te kikker of, met ‘n magneetstrokie agterop geplak, as ’n knyper-yskasmagneet dien.
- Maak ’n stel skryfbehoeftes. Die kinders kan skoon papier, poskaarte en koeverte met ’n unieke “ontwerp”, prent, plakker of stempel versier. Hulle kan die voorkante van goedkoop notaboeke op dieselfde manier versier. Oupas en oumas is dol daaroor om sulke skryfbehoeftes as presente te kry!
Resep vir soutklei
2 k meel
1 k sout
¾ k water
Knie goed. Laat staan vir 1 uur voor gebruik. Dit kan stadig in ’n oond of in die son gedroog word.
Resep vir verf
Meng gelyke dele water, sout en meel. Voeg kleursel by. Dit is lekker om hierdie mengsel in ’n plastiek-“spuitbottel” (soos vir tamatiesous) te hou. Dit kan dan net elke keer voor gebruik goed geskud word en die nodige hoeveelheid kan in ‘n kleiner bakkie uitgedruk word.
Doen iets goeds vir ander
Dit is goed dat kinders leer dat elkeen kan help in die gemeenskap en dat mense mekaar nodig het. Vakansies is ‘n gulde geleentheid om die vrye tyd te benut hiervoor.
- Laat die kinders jul plaaslike DBV-tak besoek om te gaan kyk wat alles daar gebeur en wat die behoeftes daar is. Dalk inspireer dit hulle om elke maand ’n gedeelte van hul sakgeld af te knyp vir ’n sakkie hondekos of (vir ouer kinders) om een naweek per maand hul tyd op te offer en aan te bied om op ’n Saterdagoggend vrywillig daar te help.
- Laat die kinders van die kaartjies en skryfbehoeftes wat hulle gemaak het of die koekies wat hulle dalk gedurende die vakansie gebak het by ’n instelling af te laai.
- Ouer kinders kan hul dienste vir ’n dag of twee gratis by plekke soos welsynwinkels of sopkombuise gaan aanbied.
Tegnologie is altyd ’n staatmaker
Wanneer al die ander idees uitgeput is en jou en die kinders se verbeelding ’n ruskans nodig het, is daar natuurlik altyd die wonder van tegnologie. Neem ’n paar lekker DVD’s uit, maak ’n groot bak springmielies en laat elkeen hom knus voor die televisie tuismaak. Rekanaarspeletjies, Playstation, X-Box en alle ander vorme van tegnologiese speletjies bly ook staatmakers. Julle kan selfs ’n speletjie-toernooi hou. Ouer kinders kan ook iets soos “hul eie storie” op die rekenaar aanpak. Jy kan hul verbeelding aan die gang sit met idees vir temas soos aksieverhale, spanningsverhale, romantiese stories en bangmaakstories.
Nog idees
- Kry vars buitelug wanneer die weer dit toelaat. Gaan ry fiets of stap saam.
- Speel bordspeletjies.
- Hou ’n tema-dag. Besluit op ’n tema waarvolgens almal dan op ’n spesifieke dag moet aantrek. Maak julle kos volgens die tema, luister musiek wat by die tema pas en speel speletjies wat met die tema te doen het.
- Laat elke kind ’n dagboek hou tydens die vakansie. Dit is ’n goeie idee vir tuisbly, maar veral ook wanneer julle die langpad vat. Die kinders kan tydens ’n weg-vakansie aandenkings, poskaarte en pamflette van die plekke wat julle langs die pad besoek daarin plak en elke dag se aktiwiteite of gebeure neerskryf of teken.