Die tienerfase is g’n grap nie. Ansja Ferreira kry raad vir ’n paar probleme waarmee hulle worstel
Onthou jy nog hoe dit was om ’n tiener te wees? Gemoedskommelings, aknee, draadjies … Vandag se tieners het nog meer uitdagings, want hulle word in ’n heeltemal ander tyd groot.
Janine Shamos is ’n opvoedkundige sielkundige wat ook selfbeeldafrigting aanbied. Sy sê: “Baie van die kwessies waarmee ons kinders worstel, is op hul selfbeeld gegrond en daarom is dit van kritiese belang dat ons hulle leer om hulself lief te hê en te waardeer wie hulle is, selfs as dinge verkeerd loop.
’n Goeie selfbeeld kan ons kinders help versterk teen die negatiewe invloede van groepsdruk.” Soos wat kinders na adolessensie oorbeweeg, kan dinge soos puisies en aknee en gewigstoename veroorsaak dat die oorgang nog moeiliker raak. Laat jou kind weet dat dit dikwels ’n “normale” deel van grootword is en maak ’n afspraak met ’n dermatoloog of dieetkundige.
Volgens Mariana Muller, ’n lewensafrigter, kan tieners hulself die volgende vrae rakende hul selfbeeld afvra: “Wat laat jou in jouself twyfel? Wie se opmerkings veroorsaak dit? Wanneer het hierdie twyfel oor ’n bepaalde aspek in jou lewe begin? Is dit werklik waar? Wat kan jy verander om beter oor hierdie aspek te voel?”
Angs, stres en depressie
“Angs, stres, trauma en depressie is ongelukkig ’n wesenlike deel van sommige tieners se lewens en dit is belangrik om ’n oop gesprek met jou kinders daaroor te hê,” sê Janine. “Stres voor ’n eksamen is normaal, maar om vir dae aaneen nie te slaap nie, kan skadelik wees,” sê sy. Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angs-steungroep (Sadag) gee die volgende waarskuwingstekens waarop ouers van tieners bedag moet wees:
- Veranderinge in slaappatrone deur te veel of nie genoeg te slaap nie.
- Verandering in eetgewoontes – deur te veel te eet of glad nie te wil eet nie. Sommige tieners verloor gewig as hulle depressief is, terwyl ander trooskos eet en gewig aansit.
- Verlies aan belangstelling in die dinge wat hulle voorheen geniet het, bied ’n belangrike leidraad dat iets verkeerd is. Dit kan vriende, sport, skool en buitemuurse aktiwiteite insluit.
- Verhoogde besluiteloosheid, onvermoë om te konsentreer of ’n gedagtegang te volg.
- Sosiale onttrekking of selfs weersin kom voor. Depressiewe tieners onttrek hulle van hul vriende en portuurgroep en beleef dikwels ’n weersin in of afkeer van hulself. Hulle voel liefdeloos, lelik en alleen. Volgens Mariana dra tieners dikwels depressie met hulle saam sonder dat iemand dit opmerk. “Naas motorongelukke is selfdood die grootste oorsaak van tienersterftes in Suid-Afrika. Een van die faktore wat emosionele intelligensie verbeter, is empatie. Om vir ander mense, dikwels juis die kinders wat nie maats het nie, iets te doen of soms na hulle te luister, gee betekenis aan jou lewe. “Elke kind wat anders as ander is, is dalk so as gevolg van ’n introverte persoonlikheid, opvoeding of slegte gebeurtenisse uit die verlede, en deur hierdie kind te probeer verstaan en te betrek, kan meer beteken as om ter wille van groepsdruk standaarde te verlaag en moontlik by dwelmmisbruik betrokke te raak. “Enige dwelmmisbruik begin onskuldig, maar eindig met ’n verslawing wat moeilik onder beheer gebring word, baie hartseer vir families inhou, jongmense se loopbane vernietig, diefstal, leuens en tronkstraf,” sê Mariana.
Kry hulp
“Praat met jou dokter of maak ’n afspraak met ’n sielkundige,” sê Janine. “Dit is ook belangrik om met jou tiener se onderwysers en sportafrigters te praat en wees op die hoogte van hul skoolen sportrooster. As jy nie ’n huisdokter het nie, bel Sadag by 0800 21 22 23.
Gemoedskommelings, emosies en opstandigheid
“Tieners is minder geneig om in opstand te kom as ouers redelike reëls vasstel en dit met hulle bespreek,” sê Mariana. “Kommunikasie tussen ouer en kind bly belangrik. Reëls moenie onbuigsaam wees nie en dit moet ouderdomstoepaslik wees.
Sy gee raad vir tieners:
- “’n Gebalanseerde lewenstyl het ook ’n invloed op jou emosies. Eet gesond, oefen, slaap genoeg en maak tyd vir ontspanning. ’n Belangrike kenmerk van emosionele intelligensie is om jou lewenstyl te kan bestuur om sodoende balans tussen al die fasette van jou lewe te skep.
- “Wanneer jy ander mense toelaat om emosies te beheer, gee jy hulle die mag om jou emosionele toutjies te trek. Wees bedag op wie jou onaangename gevoelens laat ervaar en hoe jy dit beter kan hanteer,” sê Mariana.
- “Sean Covey, skrywer van 7 Habits of Highly Effective Teens, skryf dat hy soms verbaas is dat hy die emosionele tuimeltreinrit van tienerwees oorleef het. In die verlede is geglo dat die brein teen adolessensie volledig ontwikkel is. Nuwe navorsing wys egter dat biologiese volwassenheid eers teen die laat tienerjare of vroeë twintigerjare bereik word. Dit verduidelik hoekom denkprosesse soos doelwitstelling, uitwerk van prioriteite en impulsbeheer eers later ontwikkel.
Groepsdruk
Volgens Mariana verlaag goeie kommunikasie die effek van negatiewe groepsdruk. “Tieners moet daarop fokus om nie hul standaarde ter wille van groepsdruk te verlaag nie. Selfs dagga wat as ’n sagte dwelm bekend is, kan net sulke negatiewe gevolge soos ander dwelms inhou,” sê sy. “Emosionele intelligensie verg van jou om ander mense se emosies te kan lees en positief daarop te reageer. Tieners wat te veel sosiale media gebruik, leer nie om van aangesig tot aangesig met mense te kommunikeer nie en hulle leer ook nie om ander mense se lyftaal te verstaan nie. Kommunikasie is belangrik vir toekomstige sake- en persoonlike verhoudings.”
Gewig
Volgens Mariana kan gewig ’n lewenslange kwessie word as ’n mens dit nie van jongs af reg hanteer nie. Sy beveel aan dat ’n gesonde lewenstyl en gebalanseerde dieet gevolg word. “’n Gesonde dieet beteken nie noodwendig jy moet al jou gunstelingkos uitsny nie – eet net matige hoeveelhede. Volg ’n goeie oefenprogram minstens twee keer per week of neem aan ’n sport deel. Eetsteurnisse kan gesondheidsgevare inhou. Kry hulp by ’n kundige persoon soos ’n sielkundige.”
Aknee
Dr Ian Webster is al 23 jaar ’n dermatoloog in privaat praktyk en die stigter van Dermastore. “Tydens puberteit begin seuns en meisies die manlike hormoon testosteroon produseer, wat dan op die vel inwerk om olierigheid, swartkoppies, witkoppies en puisies te veroorsaak.
In sommige vroue of meisies kan daar ook ’n hormoonwanbalans wees, wat die aknee vererger. Die ernstigste vorm van aknee word nodulosistiese aknee genoem. Daar kan ’n genetiese vatbaarheid vir hierdie soort aknee wees,” sê hy. “Die ernstiger vorms van aknee het dikwels ’n groot invloed op die lewens van tieners en hul selfbeeld. Ek vind dikwels dat hierdie pasiënte sosiaal onttrek en depressief kan raak.
“Die vel is die grootste orgaan en boonop sigbaar en dit is nóú aan die psige gekoppel. Aknee kan ’n groot verleentheid veroorsaak vir ’n tiener en behoort nie onbehandeld gelaat te word nie,” sê hy. Volgens Ian is dit baie belangrik dat pasiënte met aknee ’n sagte reiniger gebruik wat vir hul veltipe geskik is. “Dis ’n fout om ’n harde (strawwe) reiniger te gebruik om die aknee ‘weg te skrop’. Dit veroorsaak net velirritasie. “By ligte tot matige vorms van aknee word topikale behandeling soos retinoïede en bensoïel-peroksied gebruik.
By matige tot ernstiger aknee sal dermatoloë dikwels orale antibiotika vir ’n kort tydperk voorskryf. As daar ’n hormoonwanbalans by meisies is, kan die voorbehoedingspil help. By ernstige aknee word behandeling met isotretinoïen (Roaccutane) benodig. Dit is ’n vorm van Vitamien A en is die enigste middel wat aknee in remissie kan plaas. Dit is ’n kragtige middel en daarom is streng toesig met bloedtoetse voor en tydens die behandeling nodig.
“Ligte glikoliese afskilferings kan help om swartkoppies en witkoppies en ligte tot matige aknee te verminder. Dit bespoedig die sellulêre omset om die epidermis, minder ‘klewerig’ te maak. Dit kan verligting bied aan akneelyers, hoewel afskilferings nie aanbeveel word vir pasiënte wat isotretinoïen gebruik nie. “Die Acleara Acne Clearing System is ’n behandeling wat vir ligte tot matige aknee kan help. Dit gebruik ’n kombinasie van ’n vakuum om swartkoppies, witkoppies en pustules sagkens te reinig en te onttrek. “Intens gepulseerde lig help om rooiheid en inflammasie van die vel te verminder en om die aknee-veroorsakende bakterie P.Acnes te behandel. Aknee is vandag ’n spoedig behandelbare toestand en niemand hoef permanente letsels te dra nie.”
KENNERS Ian: www.drianwebster.co.za of [email protected]; Janine: janine. [email protected]; Mariana: 083 658 6299 of www.thebmisolution.com
Volgens die webwerwe www.success.com en www.inc.com het emosioneel intelligente mense die volgende eienskappe:
- Kan met humor alledaagse gebeurtenisse ophelder en konflik positief en met selfvertroue oplos.
- Aanvaar dat geen mens perfek kan wees nie en aanvaar dat jy kan foute maak.
- Leef met balans, sit genoeg harde werk in, maar weet ook hoe om te ontspan.
- Aanvaar verandering is deel van die lewe. Gedurige vrees vir verandering kan in die pad van sukses staan.
- Behou fokus. Bepaal jou aandag by belangrike take.
- Empatie is ‘n belangrike deel van emosionele intelligensie. Empatie is wanneer jy jouself na die wêreld, emosies en gedagtes van ‘n ander persoon probeer verplaas. Dit verg warmte, begrip en aanvaarding.
- Ken en verstaan jou swak en sterk punte. Wend sterk punte tot jou voordeel aan. Weet ook wat jou swak punte is wat aandag nodig het, dit wil sê aspekte in jou lewe waar jy kan groei.
- Wees self gemotiveerd.
- Moenie in die verlede vasgevang word en wrokke koester nie. Dit weerhou ‘n mens daarvan om vorentoe te beweeg. Aanvaar die foute wat jy in die verlede gemaak het, leer daar uit en verbeter daarop om van die toekoms ‘n sukses te maak.
- Fokus op die positiewe en omring jouself met positiewe mense.
- Stel grense. ‘n Mens moet kan “nee” sê. Dit voorkom dat ‘n mens oorweldig word deur al die beloftes wat jy gemaak het.
- Wanneer mense jou kritiseer, kan jy dit positief interpreteer. Jy kan oordeel van wie die kritiek afkomstig is en of dit enige waarheid inhou.
- Jou selfbeeld is op hoofsaaklik twee dinge gegrond: terugvoer wat jy kry van mense rondom jou en jou kennis en vaardighede. Jy het nie nodig om in jou selfwaarde te twyfel oor ‘n negatiewe terugvoer nie. Verbeter jou vaardighede in dit wat jou passie is en maak ‘n verskil in mense se lewens op ‘n plek waar jy jou passie kan uitleef en erkenning daarvoor kry.
Addisionele bron: De Klerk-Weyer, Dr R & Le Roux, Dr R. Emosionele intelligensie: ‘n Werkboek vir volledige menswees. Human & Rousseau. 2001
Mariana: 083 658 6299 of www.thebmisolution.com
Janine: [email protected]
Mariana: www.thebmisolution.com
Besoek www.sadag.org.