Tienerswangerskappe is ’n werklikheid vir baie Suid-Afrikaanse gesinne.
Vroeër vanjaar net onderwysminister Angie Motshekga haar kommer uitgespreek oor die hoë vlakke van swangerskappe in Suid-Afrikaanse skole. Sy het verwys na ‘n 2015-skoolopname wat bevind het meer as 15 000 meisies het in die akademiese jaar swanger geraak.
Statistiek Suid-Afrika het egter vroeër vanjaar in ‘n persverklaring gesê die 2016 South Africa Demographic and Health Survey het getoon tienerswangerskappe is nie, soos algemeen geglo word, besig om toe te neem in Suid-Afrika nie, maar bly stabiel en by 19-jariges het dit selfs van 35% tot 28% afgeneem. Die aantal swangerskappe het ook van 76 per 1 000 meisies in 1998 afgeneem na 71 geboortes per 1 000 meisies tussen 15 en 19 jaar oud.
En hoewel tienerswangerskappe steeds veels te algemeen is, is dit darem nie net slegte nuus nie. In die 2001-studie Adolescent pregnancy and parenthood in South Africa reken die skrywers dat in Suid-Afrika, anders as in soveel ander lande, tienerma’s dikwels terugkeer skool toe ná die geboorte van die kind en hierdie verskynsel lei dan tot ‘n lang vertraging voor die geboorte van ‘n tweede kind.