Jou tienerdogter glo dat sy en haar selfoon nie van bed en tafel geskei mag word nie, maar watter impak het dit op haar?
Deur: ZERELDA ESTERHUIZEN
Cara* is slegs 11 jaar oud, maar van Instagram en SnapChat kan jy haar niks vertel nie.
Haar ouers probeer haar tyd op sosiale media tydens die week beperk, maar Cara raak al slim met manipulasie en as haar ouers weer sien, deel sy ‘n foto en klets sy met maats.
Ons weet ons leef in ‘n ander tyd as toe ons kinders was, maar sekerlik kan al die tyd aanlyn nie goed vir kinders soos Cara wees nie?
Die tyd wat tweenies (10-13 j) en jong tieners (13-18 j) aan SnapChat, WhatsApp, Instagram en ander sosiale media bestee, is glo besig om skerp toe te neem, aldus die webwerf www.theconversation.com.
‘n Britse studie kyk nou juis na watter gesondheidsrisiko’s dit vir kinders en tieners inhou.
LEES OOK: Laat jou kind minder suiker eet
Dr Cara Booker verbonde aan die Instituut vir Sosiale en Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit van Essex sê ‘n onlangse studie deur haar departement het na die gedragspatrone van 10-15-jariges in Brittanje gekyk. Daar is ondersoek of hul tyd aanlyn hul welstandsvlakke en geestesgesondheid beïnvloed.
“Daar is gevind dat tienermeisies verreweg die hoogste gebruikers van sosiale media is en dié wat dit meer as ‘n uur per dag gebruik, het die hoogste risiko om welstandsprobleme in latere tienerjare te ontwikkel,” sê Cara.
Hierdie studie het ongeveer 10 000 jongmense van verskillende agtergronde tussen 2009 en 2015 gemonitor.
Die studie het gevind dat 10% van tienjarige meisies een tot drie uur per dag aan sosiale media bestee en dit het tot 43% onder 15-jarige meisies toegeneem.
Teen die ouderdom van tien, het die meisies wat vir meer as ‘n uur per dag op ‘n skooldag op sosiale media was, swakker welstandsvlakke ervaar as meisies wat nie so baie interaksie gehad het nie. Hulle het ook meer sosiale en emosionele probleme ondervind soos hulle ouer geword het.
Cara sê daar is ‘n aantal redes waarom meisies meer as seuns deur sosiale media geraak word.
“Meisies tref meer vergelykings tussen hul eie lewens en dié van maats as seuns. As hulle foto’s met filters of wat gephotoshop is sien, kan hulle sleg oor hulself voel. Meisies ervaar ook meer druk as seuns om ‘n sosiale-media-teenwoordigheid te ontwikkel en te onderhou. Dit vra konstante nuwe plasings en tyd aanlyn. As hulle voel dat hul gewildheid op sosiale media taan, kan daar sosiale en emosionele kwessies ontstaan.
“Seuns is meer geneig om aanlyn speletjies te speel as om tyd op sosiale media deur te bring. Ons het nie daarna in ons studie gekyk nie, maar hul welstand kan dalk ook moontlik daardeur geraak word.”
Hoe beskerm ons jongmense?
‘n Onlangse verslag deur die Kinderkommissaris vir Engeland stel voor dat sosiale-media-platforms na ouderdomsbeperkings moet begin kyk en ouers moet hul kinders beter op die lewe in ‘n digitale era voorberei. Daar is ook al gevra dat die tegnologiebedryf ingeboude tydsbeperkings moet instel.
BRON: www.theconversation.com