Jy het al van die sogenaamde “preggy brain” gehoor, maar presies hoe swangerskap die brein regtig beïnvloed, is nou eers vasgestel
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
ʼn Nuwe studie toon dat die struktuur van vroue se brein aansienlik tydens hul eerste swangerskappe verander en die veranderings hou vir so twee jaar. Die grysstof krimp in sekere gedeeltes wat met prosessering gemoeid is en wat op sosiale seine reageer.
Dit mag moontlik beteken dat nuwe ma’s se breine so effektief as moontlik bedraad word om byvoorbeeld op hul baba se behoeftes te reageer en om bedreigings in hul onmiddellike omgewing waar te neem.
Hierdie veranderings korreleer met die standaard toetse van ʼn ma se band met haar baba en dit gebeur of ʼn vrou natuurlik bevrug word of van in vitro-bevrugting gebruik maak.
Die studieleier Elseline Hoekzema, ʼn neurowetenskaplike aan die Leiden-universiteit in Nederland, sê swangerskap laat jou beslis nie jou brein “verloor” nie. “Die verlies van grysstof in sekere areas kan selfs ʼn voordelige proses wees wat op spesialisering of volwassewording dui.”
BRON: www.sciencemag.org