Swanger en oorgewig? Dit kan sleg vir jou baba wees, waarsku ‘n studie
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Die aanvanklike naarheid is nou verby, maar nou’s jy permanent lus vir iets lekkers. As ‘n mens swanger is, wil jy mos meer eet. Jy eet mos vir twee … of moet jy juis nie? Nuwe navorsing toon dat hoe meer oorgewig die ma is, hoe groter is die kans vir misvormings by babas.
Die verslag in die mediese joernaal BMJ toon dat hoe erger ‘n ma oorgewig is, hoe meer neem die risiko vir aangebore gebreke by babas progressief toe. Daarom word vroue aangemoedig om ‘n gesonde lewenstyl te handhaaf en om ‘n normale liggaamsgewig te bereik voor hulle swanger word.
LEES OOK: Swangerskap verander jou brein
Die aantal vroue wat as vetsugtig (obese) geklassifiseer word, het blykbaar in slegs tien jaar verdubbel. As hierdie neiging voortduur, sal een uit vyf vroue teen die jaar 2025 vetsugtig wees en een uit tien vroue ernstig vetsugtig.
Die navorsers het geboortedefekte by babas bestudeer en dit met die liggaamsmassa-indeks van hul ma’s vergelyk. Die algemeenste geboortedefekte was hartprobleme, misvorming van die genitalieë, ledemate, urinestelsel, oë, verteringstelsel, senuweestelsel en ook gesplete verhemeltes.
Daar was baie minder misvormings by babas wie se ma’s ‘n gesonde liggaamsgewig gehad het, maar met elke kategorie van oorgewig, het die syfers gestyg. Die studie het ook ander potensiële risikofaktore in ag geneem soos rook, drank, dwelms, diabetes en sosio-ekonomiese status.
LEES OOK: Swangerskapterminasie weens geensiektes
Swanger? Hier’s wenke
- Jy mag moontlik hongerder as gewoonlik wees, maar probeer om nie meer as gewoonlik te eet nie. Eet elke dag‘n gesonde ontbyt.
- Eet baie vrugte en groente, want die baba het net soos jy die vitamiene en minerale nodig.
- Kry ‘n goeie multivitamien wat foliensuur bevat.
- Moet nooit op ‘n dieet gaan as jy swanger is nie, probeer net by matige porsies hou.
- Jy moet steeds van alle voedselgroepe eet. Kos met stysel is byvoorbeeld ‘n belangrike bron van energie en bevat vitamiene en vesel. Dit sal ook help om jou vol te hou. Kos met ‘n proteïeninhoud is ook noodsaaklik sowel as suiwelprodukte omdat julle albei kalsium nodig het. Kies die laevetweergawe as jy oor jou gewig bekommerd is.
- Dis baie belangrik om veral nou veilig met kos te werk te gaan. Was al jou vrugte en groente goed af en was alle oppervlaktes en jou hande goed as jy met rou kos soos vleis gewerk het.
- Bêre rou kos afsonderlik in die yskas.
- Matige oefening word aanbeveel.
- Goeie lewenstylkeuses het ‘n impak op die gesondheid van jou baba. Daarom word dit aanbeveel dat jy tydens jou swangerskap nie alkohol gebruik nie en nie rook nie.
BRONNE: www.hindustantimes.com, www.healthline.com, www.nhs.uk